Alledaagse Antwoorde

Jy Het ‘n Vriend in die Stryd

deur Joyce Meyer

Jy Het ‘n Vriend in die Stryd

Indien jy ooit deur ‘n moeilike tyd gegaan het of ‘n stryd in jou lewe ervaar het, wil ek jou persoonlik aanmoedig. Hierdie is ‘n waarheid direk uit die Woord van God wat ek glo jou geloof sal bou en elke area van jou lewe kan beïnvloed.

God het vir jou alles gegee wat jy nodig het om elke stryd (struikelblok) te oorwin wat jy ooit teëkom.

Vir baie jare, al was ek ‘n Christen, het ek ‘n lewe sonder oorwinning gely omdat ek nie hierdie waarheid verstaan het nie. Ek het nie geweet dat God my toegerus en bemagtig het om die lewe se stryd te oorwin nie.

Dus, oor al daardie jare, wanneer ek probleme gehad het – met verhoudings, finansies of wat die situasie ook al was – het ek gedink dit was reg om dit te verdra of te maak asof alles reg is, net sodat ander nie sal weet ek sukkel nie.

My gewilligheid om nederlaag te duld, het my egter verhinder om God se krag, seëninge en guns te ontvang.

God het ons nie geskep om ‘n lewe sonder oorwinning te ly nie. Hy het ons geskep om te oorwin – selfs tydens die moeilikste tye van ons lewe. Dit is in hierdie moeilike tye dat God wil hê ons moet besef dat Hy vir ons is!

‘’Meer As ‘n Oorwinnaar’’

In Rom 8:37 (NLV) gee God vir ons ‘n wonderlike belofte van oorwinning oor die stryd waardeur ons gaan. Dit sê, Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ’n klinkende oorwinning te behaal – deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het.

Die opwindende ding om ‘’meer as ‘n oorwinnaar’’ te wees, is dat voor jy ooit ‘n probleem het, weet jy dat jy dit het wat jy nodig het om dit te oorkom. Jesus is aan jou kant en Hy sal jou die krag gee wat jy nodig het om te oorwin.

Wanneer jy weet dat God jou reeds die oorwinning gegee het, kan jy die stryd met nuwe vertroue aanpak.

Dis ook belangrik om te weet dat ons stryd geestelik is. Baie mense leef in nederlaag omdat hulle onbewus is dat hulle ‘n geestelike vyand het wat vernietigende planne vir hul lewens het.

1 Pet 5:8 (NLV) sê vir ons om te alle tye waaksaam te wees … Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
God probeer nie om jou bang te maak met Skrif soos hierdie nie, Hy sê vir jou om bewus te wees en voorbereid te wees.

Wanneer jy verstaan dat die stryd geestelik is, dan weet jy dat die wapens wat jy moet gebruik, geestelike wapens is. Wanneer jy weet hoe om dit te gebruik, sal jy nooit weer met ‘n slagoffer mentaliteit hoef saam te leef nie. In plaas daarvan, sal jy weet wat dit beteken om meer as ‘n oorwinnaar deur Christus te wees.

Nou gaan die vyand jou nie alleen los nie… en hy sal nie regverdig veg nie. Hy sal alles doen wat dit ook al verg om jou van God se plan vir jou lewe te weerhou. Dit beteken hy sal jou aanval in enige area van jou lewe waar hy ‘n swakheid sien of dink hy kan by jou uitkom. Maar God is groter as die vyand.

Die beste manier om jou stryd te wen, is om ‘n hegte, intieme verhouding met God te kweek. Ons is niks in ons eie krag nie – op ons eie is ons nie opgewasse teen die vyand nie. Die Bybel sê egter ‘’ Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon. (1 Johannes 4:4 NLV).

Dus, watter stryd het jy vandag? ‘n Problematiese verhouding, siekte, finansiële probleme, vrees, of dalk ‘n teleurstellende terugslag? Jy was nooit bedoel om dit alleen te doen nie. God wil jou versterk, lei, help… en jou leer hoe om sukses te behaal oor die vyand.

Nie een van ons het ‘n keuse of ons die stryd in die gesig sal staar of nie – ons almal beleef moeilike tye! Maar ons kan kies om oor dit te seëvier. Ons kan God se krag ontvang om elke stryd wat ons in die gesig staar te beveg en te wen en sterker aan die ander kant uit te kom.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon