Alledaagse Antwoorde

Een Goeie Reël Vir ‘n Gelukkige Huwelik

deur Joyce Meyer

Een Goeie Reël Vir ‘n Gelukkige Huwelik

Ek dink die meeste mense sal saamstem dat ‘n goeie huwelik nie net gaan ‘’gebeur’’ nie. Dit gaan ‘n bietjie opoffering verg. Meer as enigiets, om ‘n goeie verhouding te hê, gaan vereis dat jy toegewyd moet wees om dinge op God se manier te doen.

Ek het byvoorbeeld een groot manier gevind om my huwelik te verbeter, én dis om ‘n gesindheid van gee eerder as te ontvang aan te kweek (Sien Hand 20:35). Ons natuurlike neiging is om op onsself te fokus. Ons het ‘n neiging om te dink, Wat kan jy vir my doen? of Hoe kan jy my gelukkig maak?

As jy in die huwelik intree met die ingesteldheid dat jou huweliksmaat jou heeltyd gelukkig moet maak, sal dit rampspoedig wees. As jy egter die keuse maak om ‘n seën vir jou maat te wees – as jy jou gedagtes instel, ek wil gee…wat kan ek doen om goed vir hulle te wees? – dan sal jy nie net jou huwelik versterk nie, maar jy sal ook uiters gelukkig wees!

Ek erken, dat ek voorheen ‘n ongelooflik selfsugtige persoon was. Om die waarheid te sê, ek wou net my sin hê en was ontsteld as ek dit nie kon kry nie. Trouens, ek kan nog baie oggende onthou hoe ek in die bed gelê en planne maak het hoe ek vir Dave gaan oorreed om te doen wat ek daardie dag wou doen. Ek was vasgevang in myself en net gedink oor alles ek wou hê en wat ander vir my kan doen.

Wel, een oggend terwyl ek daar lê en planne maak oor hoe ek alles gaan kry wat ek wou hê, het die Heilige Gees my aandag afgelei en iets op my hart kom lê wat ek nooit sal vergeet nie.

Die Here het vir my gesê, ‘’Joyce, jy herinner my aan ‘n speelgoedrobot wat iemand elke oggend opwen. Dan, nadat jy opgewen is, loop jy heeldag rond en sê ,‘Wat van my? Wat van my? Wat van my? Wat van my? Wat van my? Wat van my? ’’

Dit het my aandag getrek! Mettertyd, terwyl ek die Here se hulp gesoek het, het Hy my gehelp, bietjie vir bietjie om te verander en minder selfsugtig te wees.

Een goeie manier om jou huweliksmaat te seën, is om tyd te neem om te leer waarvan hulle hou of waarvan nie, Ek het, byvoorbeeld, geleer dat Dave regtig daarvan hou om kwaliteit tyd saam deur te bring. Dus, al is ek meer veelsydig, het ek geleer om my onverdeelde aandag aan Dave te gee wanneer hy my iets wil vertel.

Eweneens, het Dave moeite gedoen om te leer waarvan ek hou. Baie keer sal hy kies om die skottelgoed saans te was omdat hy weet hoeveel dit my seën. Dit lyk dalk na iets klein, maar dit loop ‘n lang pad na die handhawing van ‘n gesonde verhouding!

Hierdie beginsel kom uit Handelinge 20:35 (NLV) wat sê, In alles het ek vir julle ’n voorbeeld gestel dat ons só hard moet werk dat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’”

Vir baie jare kon ek hierdie Skrif aanhaal, maar ek het dit natuurlik nie geglo nie, want ek het my tyd spandeer om geseën te word eerder as om ‘n seën te wees. Maar God het my geleer dat ons nie weet wat ‘’gelukkig’’ is totdat ons van onsself vergeet, op ander begin fokus en in alle opsigte vrygewige gewers word nie.

Ek sal ‘n paar jaar gelede nooit vergeet toe ek ‘n verjaardagpartytjie vir Dave beplan het nie. Ek het een hele dag spandeer aan rondhardloop, geesdriftig planne gemaak oor hoe om dit ‘n wonderlike geleentheid te maak. Teen die tyd dat sy verjaardag aanbreek was ek so bly en kon nie wag om sy reaksie te sien nie. Ek dink eintlik ek het sy verjaardag meer geniet as hy! Hoekom? Want ek het van myself vergeet en daarop gefokus om goed te wees vir iemand anders.


Dit is so belangrik om te onthou dat jy nooit te veel kan gee in die oë van God nie. Selfs al voel jy nou dat jy al die ‘’gee’’ doen en jou maat doen die ‘’ontvang’’, wees verseker dat God altyd vir jou sal sorg en jou gehoorsaamheid aan Sy Woord sal seën.


Galasiërs 6:7 (NLV) het ‘n wonderlike belofte van God. Dit sê, Moenie ’n fout maak nie. God laat nie met Hom spot nie: Wat mense saai, sal hulle ook maai! Ek hou hiervan! Wanneer ons ‘n besluit neem om ‘n gewer te wees en tyd te spandeer om te fokus op hoe om goed te doen aan ander, sê God Hy sal ons seën en vir ons sorg.

Ek het huiswerk vir jou. Moenie bekommerd wees nie – dis maklik! Vir die volgende week of wat, moedig ek jou aan om elke oggend ‘n minuut of twee te neem om jou gedagtes in die rigting te stuur om te gee in plaas daarvan om te ontvang. Dink doelbewus aan iets wat jy vir jou maat kan doen wat ‘n seën sal wees.

Soos jy dit doen – soos jy kies om tyd te neem om hul lewe beter te maak – glo ek jy sal meer geluk in jouself ervaar…en werklik ‘n huwelik hê wat jul albei geniet.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon