Alledaagse Antwoorde

Dis Tyd Om Die Lig Te Wees

deur Joyce Meyer

Dis Tyd Om Die Lig Te Wees

Het jy al ooit iemand hoor sê, ‘’Daar is net iets omtrent hulle’’? Dit beteken gewoonlik dat hulle iets sien wat hulle in ‘n persoon bewonder; hulle staan uit tussen die skare, maar hulle kan nie heeltemal hul vinger lê op wat dit is nie.

Ek hou daarvan as ek hoor dat dit gesê word oor iemand wat ‘n Christen is, want wanneer ons goed is vir mense en God se liefde deur ons vloei, is daar net iets wat ons aandag trek.

Die Bybel sê dat Christene die sout van die aarde is en die lig van die wêreld (sien Mattheus 5:1-16). By die werk, in die kruidenierswinkel en selfs tusssen familie en vriende wat nie ‘n verhouding met Christus het nie, is God se mense daar om ‘n lieflike geur na ‘n onsmaaklike situasie te bring.

Daar is soveel onrus in mense se lewens vandag – soveel duisternis – en hulle soek hoop. As Christene is ons diegene wat hulle kan help om dit te vind wat hulle nodig het deur ‘n verhouding met God.
In Mattheus 5:13 vra Jesus, ‘’ Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie.’’

Dit blyk dat iewers langs die pad die lyne tussen godvresenheid en goddeloosheid vervaag het. Dinge wat 20 of 30 jaar gelede as verkeerd beskou was, blyk vandag ‘’nie so erg’’ te wees nie. Ek wonder wat die volgende 20 jaar sal bring as dit so aanhou.

Ons moet onsself dalk afvra: Wat wys ons die wêreld? Wat is dit wat ons ‘’souterig’’ hou? Hoe laat ons, as Christene, ons lig skyn in die donkerte om ons? Wat onderskei ons?

Ek glo die antwoord is heiligheid. Wanneer ek sê heiligheid, bedoel ek nie godsdiens nie. Ek praat nie van ‘n lys van moets en moenies nie…of kerk toe gaan op Sondagoggende net om jou Christelike plig een dag ‘n week te doen nie. Ja, kerk toe gaan is ‘n wonderlike ding! Maar ‘n heilige lewe gaan oor soveel meer as oor om een keer ‘n week ‘n diens by te woon.

Wanneer ek sê heiligheid, praat ek van ‘n gedrag wat ontstaan uit ‘n persoonlike, intieme verhouding met God. Ek verwys na iets wat ons help om ander mense lief te hê en goed vir hulle te wees.

Heiligheid is die ‘’iets’’ wat die wêreld in ons moet sien. Daar is so baie mense wat nooit ‘n kerkdiens sal bywoon of ‘n Bybel sal lees nie, maar hulle lees ons! Hulle hou ons gedrag dop en kyk na ons om uit te vind hoe God is.

Ons is God se ambassadeurs en ons is bedoel om lig in die duisternis te wees sodat hulle hul pad na Jesus kan vind (Sien 2 Korintiërs 5:20).

Hebreërs 12:14 sê vir ons om heiligheid na te streef. Verskillende Bybel weergawes gebruik woorde soos ‘’werk aan’’, ‘’poog’’, ‘’streef’’, ‘’wees’’. Heiligheid is die uitkoms van ‘n werk wat God in ons elkeen kom doen deur ons persoonlike verhouding met Hom. Dit begin die oomblik wat ons Jesus as ons Verlosser aanneem. Wanneer Hy in ons harte kom woon, word ons op daardie oomblik heilig gemaak. Dan verander Hy ons bietjie vir bietjie van binne na buite sodat ons meer en meer soos Hy word (sien 2 Korintiërs 3:18).

Regdeur hierdie proses stroop God stadig ons trots en selfsug af. Ons raak minder gefokus op hoe ons onsself kan behaag en raak meer besorg daaroor om ander mense te seën. Ons gaan van, ‘’Wat van my?’’ na ‘’Hoe kan ek jou help?’’


Dit is belangrik om te onthou dat ons nie onsself kan verander nie – net God kan ons verander en ons help om meer soos Hy te word. In Johannes 15:5 (NLV), sê Jesus, “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.


Dus, wat is ons aandeel? Ons deel is om gereeld tyd te maak om ons verhouding met God te ontwikkel. Dit doen ons deur Sy Woord te lees en met Hom te praat deur gebed. Net soos ‘n beste vriend, verlang die Here dat ons dwarsdeur die dag met Hom moet praat oor alles en nog wat.

Heiligheid is soos ‘n ‘’binnemisdaad’’. Terwyl ons tyd saam met God spandeer en Hom vra om ons te verander, verander Hy ons stadig, maar seker van binne na buite.

Moenie bekommerd wees as jy voel jy is nog nie ‘’daar’’ nie. Die feit dat jy graag ‘n beter mens wil wees, beteken vordering. God belowe jou nie dat die proses vinnig en maklik sal wees nie, maar Hy verseker ons dat Hy ons meer soos Hy sal maak solank ons Hom aanhou soek.

Waar ons ook al in die proses is met heiligmaking, is dit belangrik om te onthou die wêreld hou ons dop. Elke dag, in elke situasie het ons die voorreg om die sout en lig te wees vir die mense rondom ons en vir hulle te wys wie God werklik is.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon