Alledaagse Antwoorde

Moenie Jou Drome Opgee Nie

deur Joyce Meyer

Moenie Jou Drome Opgee Nie

Wat wil jy uit die lewe hê? Het jy ‘n droom vir jou lewe, jou kinders, jou finansies of jou huwelik? Is daar iets waarvoor jy hoop – ‘n idee, ‘n plan, ‘n doelwit of visie? Wat dit ook al is wat jy wil hê, wat gaan dit verg om dit te bereik?

Ons moet heeltyd na ons drome reik, want God het ons nie geskep om passief of staties in die lewe te wees nie. Dus, as jou lewe passief is, moet jy dit aan die gang kry en begin om die drome wat God in jou hart geplaas het na te jaag.

Die dinge wat jy wil hê, gaan nie sommer net in jou skoot val nie. Jy sal moet uitreik en dit aangryp. Jy gaan ‘n heilige vasberadenheid in jou moet kry wat sê, ‘’As enigeen die lewe kan hê wat God wil hê hulle moet hê, gaan dit ek wees!’’

Jy moet onthou dat jy heel waarskynlik nie oornag daar gaan uitkom nie, daarom is dit belangrik om die balans te vind tussen tevrede wees en die strewe na daardie begeertes.

Paulus sê hy het geleer om in alle situasies tevrede te wees: Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. (Filippense 4:12 NLV). Hy het nooit ontsteld geraak waar hy was nie, maar terselfdertyd het hy uitgesien na wat God in die toekoms vir hom gehad het.

Ek was goed daarmee om ver vooruit te kyk. God het vir my ‘n groot droom gegee vir hierdie bediening, maar ek het destyds nie die tevredenheid waarvan Paulus praat ten volle verstaan nie – geniet waar jy is totdat jy daar is waarheen jy op pad is. Ek het dus baie jare spandeer om toe te laat dat die droom wat God my gegee het, my te treiter, in plaas daarvan om die reis te geniet.

Ek het mettertyd ontdek dat hoewel dit belangrik is om jou Godgegewe drome omhoog te hou, (sien Habakuk 2:2-3) jy ook moet leer om tevrede te wees, sodat jy nie ongelukkig sal voel op pad na die vervulling van jou drome nie. Terselfdertyd moet ons nooit toelaat dat tevredenheid ons so gemaklik maak dat ons van die visie vergeet nie.


God wil hê jy moet droom. Hy wil hê jy moet beplan. Hy wil nie hê dat die eise en die roetine in die lewe of dinge soos vrees jou daarvan weerhou om vorentoe te beweeg nie. Dus, wanneer daardie dinge gebeur, moet ons gereed wees om daarteen op te staan. Selfs iets so eenvoudig soos om elke oggend wakker te word en te sê, ‘’Iets goeds gaan vandag met my gebeur’’, kan vrees en ander afleiding hokslaan.


Hierdie eenvoudige daad is kragtig, want daar is krag in jou woorde.

Spreuke 18:2 sê die tong het mag oor dood en lewe, daarom moet ons daarop fokus om God se beloftes oor ons lewens te verklaar. Jou drome word vervul wanneer jy geestelik met God verbind deur Sy beloftes te verkondig. Jy kan soos Abraham en Sarah wees as jy net glo en jy streef na God se beste vir jou. Hulle was oud en om ‘n kind te hê het onmoontlik gelyk, maar God het aan Abraham ‘n visioen gegee dat hy die vader van baie nasies sou wees. Omdat Abraham God geglo het, is daardie visioen vervul deur Izak en die baie geslagte wat daarop gevolg het. (Ek moedig jou aan om Abraham se storie in Genesis hoofstukke 17-21 te lees).

As jy ‘n droom het wat onmoontlik lyk, begin verklaar, ‘’Ek sal alles hê wat God sê ek kan hê. Ek sal alles doen wat God sê ek kan doen. Ek sal alles wees wat God sê ek kan wees’’. Want by God is alle dinge moontlik!

Miskien is dit tyd dat jy vandag ‘n nuwe onderneming maak om jou drome na te jaag. Ek moedig jou aan om dadelik jou geloof aan te wakker, enige vrees af te skud, te onthou wie jy in Christus is en om ‘n besluit te neem om God te vertrou om die onmoontlike te doen elke dag wanneer jy opstaan. Dan sal jy die reis geniet, een dag op ‘n slag, totdat jou drome vervul is.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon