Weet jy dit is God se wil dat jy ‘n gesonde selfbeeld moet hê? Weet jy Hy begeer dat jy jouself waarlik moet liefhê – jou persoonlikheid, jou gawes en talente en selfs jou eienaardighede?
Ek moet erken daar was ‘n tyd wat ek glad nie van myself gehou het nie. Ek was verskriklik onseker en wou gedurig soos ander mense wees. Ek was gefokus op alles wat met my fout was en ek het vasgehaak daarop.
Ons het ‘n vyand, Satan, wat ons gedagtes voortdurend met negatiewe gedagtes wil vul. Hy wil hê ons moet voortdurend op ons swakhede fokus, daaroor peins en dit dan hardop spreek. Hy sal ons onseker laat en, soos ‘n plaat wat vashaak, ons oor en oor bombardeer met dieselfde gedagtes.
Hy sal vir ons dinge vertel soos:
Jy mors altyd alles op – hoe kan God jou liefhê?
Jy sal nooit so goed soos jou broer en suster wees nie.
Dalk het jy hierdie een gehoor: ‘’Jy kan dit nie doen nie – jy is nie slim genoeg nie!’’ Hy wil hê ons moet sleg voel oor onsself en ons vergelyk met almal anders.
Die probleem is: as ons nie sy leuens herken en dit vervang met waarheid uit God se Woord nie, begin ons om hierdie dinge oor onsself te glo en te sê.
Ek kan nie onthou hoeveel stories ek al gehoor het van mense wat herhaaldelik gesê is hulle is dom of onnosel tydens hul grootwordjare nie. Hulle ouers het hul oortuig dat hul ‘’nêrens in die lewe sal kom nie’’. Ongeag hoe intelligent of begaafd hulle was, moes hulle jarelank hierdie vasgehaakte plaat met hulle saamdra. Sommige is selfs vir ‘n rukkie teruggehou – dit het tyd geneem om die leuens met die waarheid te vervang.
Ons woorde en gedagtes is ongelooflik belangrik. Spreuke 18:21 sê: Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde. (NLV).
Dit is bewys dat ons meer glo wat ons oor onsself dink en sê as wat enigiemand anders oor ons sê.
Daarom is dit belangrik vir ons om doelbewus te mediteer op ons goeie eienskappe. Ons moet aktief soek na die goeie, kies om daaroor te dink en dit dan hardop te uiter.
Wat Sê Jy?
As jy vertroud is met my leringe, weet jy ek deel baie boodskappe oor die krag van ons gedagtes en woorde. Dit gaan oor soveel meer as ‘’positiewe denke’’, dit gaan oor die vervanging van die leuens met die waarheid van God se Woord.
God se Woord is kragtig en dit het die vermoë om ons gedagtes te vernuwe en ons te help om onsself te sien soos God ons sien (Sien Rom 12:2). Hoe meer ons weet wat God sê, hoe meer sal ons die leuens van die vyand herken om dit met die waarheid te vervang.
Byvoorbeeld, wanneer die vyand (of enigiemand anders) jou probeer oortuig dat jy ongelief is, herinner hom wat God van jou sê. Dink en sê dinge soos:
‘’Ek is ‘n kind van God en is op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Hy is lief vir my en gee om vir my. Nog voor my geboorte het Hy al omgegee. Hy het my gekies. Hy het ‘n wonderlike plan vir my lewe’’ (sien Ps 139; Rom 8:38-39; Jer 1:5; 29:11).
Hoe om God se Woord hardop te bely, was lewensveranderend vir my. Belydenis beteken ‘’om dieselfde ding te sê soos.’’ Dit is belangrik vir ons om te sê wat God sê en Sy Woord te spreek – nie wat ons gevoelens, ander mense of ons omstandighede vir ons sê nie.
Ek moedig jou aan om tyd te neem om te leer wat God se Woord oor jou sê en dit dan hardop te verklaar. Om die waarheid te sê, dit is een van die kragtigste dinge wat jy kan doen om jou selfbeeld te verander en jouself op ‘n positiewe manier te begin sien.
Nadat die Here my hieroor begin leer het, het ek ‘n lys van bekentenisse gemaak wat op Skrif gebaseer is. Teen die tyd dat ek klaar was, het ek meer as 100 bekentenisse gehad. Ek het dit twee keer per dag hardop begin uitspreek sodat Sy waarheid diep in my binneste kon kom lê.
Ek het byvoorbeeld baie skuldgevoelens gehad. Een van my bekentenisse was (en is steeds): ‘’Ek is die geregtigheid van God in Jesus Christus (Sien 2 Kor 5:21).
Toe ek dit begin uitspreek het, het ek dit nie regtig geglo nie. Ek het nie reg gevoel teenoor God nie. Oor weke, maande en jare het God my deur Sy Woord gehelp om te glo ek is geregverdig.
Om God se Woord te spreek, is iets wat ek gereeld doen omdat ek die resultate in my eie lewe gesien het. Die Woord werk en dit het die krag om die leuens van die vyand te verslaan! (Sien Hebreërs 4:12).
Hierdie is ‘n geestelike waarheid: wanneer ons op ‘n positiewe manier van onsself praat, sal ons onsself op ‘n gesonde en positiewe manier begin sien. Ons kan ons eie opinies oor onsself verbeter bloot deur die manier waarop ons praat!
Ek daag jou uit om hierdie boodskap ter harte te neem. Jy kan begin deur selfs net vyf minute elke oggend te spandeer – selfs in jou motor op pad werk toe – om positiewe dinge oor jouself, jou lewe en jou dag te verklaar. Jy kan die ‘’vasgehaakte plaat’’ bestry en vervang met positiewe woorde wat ‘n gesonde selfbeeld sal produseer.
Terwyl jy dit doen, sal die waarheid van God se Woord die leuens oorwin en jy sal jouself op ‘n heel nuwe manier begin sien.
Onthou, God het jou lief en een van Sy grootste begeertes is dat jy jouself moet liefhê. Hy het ‘n persoonlike plan vir jou lewe wat net jy kan vervul. Hy wil jou die selfvertroue gee om met vrymoedigheid jou toekoms in te stap, jou lewe lief te hê en so ook die persoon wie Hy jou geskep het om te wees.