Alledaagse Antwoorde

Hoe Om Jou Ware Self Te Wees

deur Joyce Meyer

Hoe Om Jou Ware Self Te Wees

Ek wil jou ‘n vraag vra: het jy jouself lief? Ek praat nie nou daarvan om jouself op ‘n selfsugtige manier of self-gesentreerd lief te hê nie, maar om jou unieke self lief te hê soos God jou geskep het.

Dink net vir ‘n rukkie daaraan. Jy kom nooit weg van jouself net vir een sekonde nie. Oral waar jy gaan, daar is jy ook! Onthou jy hoe ellendig jy gevoel het om in die teenwoordigheid van iemand te wees wie jy glad nie geniet het nie? Dieselfde geld vir die verhouding met jouself. As jy nie van jouself hou nie – die een persoon saam met wie jy altyd is – is jy bestem vir ‘n ellendige lewe. Wanneer jy jouself liefhet, kan jy jou lewe geniet.

Om jouself lief te hê is om die onvoorwaardelike liefde van God met jou hele hart te aanvaar, om jouself te sien soos Hy jou sien, en om bly te wees en in vrede te wees soos Hy jou geskep het: uitverkorene, koninklik, heilig en spesiaal (sien 1 Petrus 2:9 NIV). Hierdie gesonde self-liefde is nie gebaseer op wat jy reg of verkeerd doen nie, maar wie jy is as God se kind. Wanneer jy nie weet wie jy in Christus is nie, is jy nie in staat om jouself te sien of lief te hê soos Hy doen nie of om jou ware self te wees nie. In plaas daarvan is jy aan die genade van ander se menings oorgelewer en voel jy voortdurend onvoldoende en minderwaardig en wens jy jy kan soos iemand anders wees.

Ontspan en Wees Wie Jy Is

Te lank het ek probeer om soos soveel mense te wees, dat ek myself verloor het. Ek was vasgevang in hierdie bose kringloop en laat ek jou vertel, dit is treurig om so te lewe.

Omdat ek seksueel mishandel was deur my pa, het ek altyd gevoel iets is fout met my. Die negatiewe gevoel het my gedryf om te probeer wees soos ander mense wat ek bewonder of gedink het ek ‘’moet’’ wees. Ek het probeer om soos my man te wees, wat presies die teenoorgestelde van my is. Ek het probeer om soos my pastoorsvrou te wees, wat ook die teenoorgestelde van my was. En ek het probeer om soos my vriendin te wees wie talente gehad het wat ek nie het nie.

Om die waarheid te sê, as iemand selfs voorgestel het dat ek iets anders doen as die manier waarop ek dit gedoen het, het ek dadelik die druk gevoel om te verander. Al het hulle my nie probeer druk nie, was die einste idee dat hulle nie goedkeur wat ek doen nie, genoeg om my paniekerig te laat voel.

Jare later, nadat ek getroud is en kinders gehad het, het ek ‘n goeie vriendin gehad wat gereeld by my huis gekuier het. Soms het sy by my sit en gesels terwyl ek my strykwerk gedoen het (ja, mense het eens op ‘n tyd al hul klere gestryk). Eendag het sy gevra, “Hoekom begin jy met die kraag as jy stryk? Ek begin altyd by die lyf.”

My vriendin het bloot ‘n opmerking gemaak, maar van toe af, wanneer sy by ons huis was en ek besig was om te stryk, het ek by die lyf van die hemp begin. Ek het gedoen wat ek gedink het haar goedkeuring sou wegdra, in plaas daarvan om te stryk soos dit vir my gemaklik was. Die snaakse ding is dat sy waarskynlik nie eens agtergekom het hoe ek stryk na haar aanvanklike opmerking nie, dus was al my moeite verniet.

Ek het baie frustrerende jare as ‘n Christen deurgebring en probeer om ander te behaag en misluk, totdat die Here my gewys het dat my probleem was dat ek nooit werklik Sy liefde vir my ontvang het nie.

Na ek hierdie openbaring ontvang het, het ek een jaar geneem om te studeer, te mediteer en hardop God se liefde vir my te bely. Om daardie tydstip het ek ‘n veertig-jaar geskiedenis gehad dat ek nie van myself gehou het nie, wat nog te sê van myself lief te hê, dus om my gedagtes op hierdie gebied te vernuwe, het tyd geneem. Ek het eers skuldig gevoel om myself lief te hê, want ek was deeglik bewus van my gebreke, maar uiteindelik het ek geleer dat ek kan liefhê wie ek is sonder om van alles te hou wat ek doen. Ons kan almal saam met God werk aan positiewe verandering in ons gedrag sonder om onsself te verwerp of onsself as ‘n mislukking te beskou as gevolg van ons onvolmaakthede.

Mense rondom ons kan gou wees om al ons foute en eienaardighede uit te wys, en ons vyand, die duiwel, herinner ons beslis daaraan. Maar ons hoef nie alles te glo wat ons hoor nie. Ons moet dit wat ons glo met God se Woord vergelyk om te sien of dit waar is of nie. God het elkeen van ons geskep en volgens Psalm 139, het Hy dit baie sorgvuldig gedoen. God maak nie foute nie, en al Sy werke is wonderlik. Dit beteken jy is wonderlik!

Kom ons kyk na die psalmdigter, Dawid, wat deur ‘n groot toets van sy eie geloofwaardigheid gegaan het, net voordat hy Goliat in geveg teëgekom het.

Bly Getrou Aan Jou Doel

1 Samuel 17 vertel die storie hoe die Israeliete die reus Goliat, die kampioen van die magtige Filistyne, in die gesig moes staar. Maar, toe Goliat uitkom om te veg, was die Israelitiese soldate vreesbevange en die jong Dawid was die enigste een wat bereid was om te veg (1 Sam 17: 1-11,16).

Dit het bietjie oortuiging geverg, maar toe koning Saul uiteindelik ingestem het om hom teen die reus te laat veg, het hy vir Dawid sy eie tuniek en wapenrusting aangetrek en ‘n brons helm op sy kop gesit. Dawid het egter gou besef hy kan nie gaan veg in iemand anders se wapenrusting nie, want hy was nie gewoond daaraan nie. Trouens, hy kon nie eens daarin beweeg nie. Hy het Saul se wapenrusting uitgetrek, sy herderstaf gegryp en vyf gladde klippe en ‘n slingervel bymekaargemaak. Gewapen met net daardie bekende items, het hy die reus genader (1 Sam 17: 37-40).

Toe Goliat met Dawid gespot het en hom probeer intimideer het, het Dawid gereageer in die wete dat God hom ‘n oorwinning oor die reus sou gee (1 Sam 17: 41-45). Die jong Dawid het toe voortgegaan om te doen wat niemand gedink het hy kan doen nie. Die slingervel waarvoor Goliat eens gelag het, het ‘n enkele klip gewerp wat hom getref en doodgemaak het, en die Israeliete het die Filistyne daardie dag verslaan (1 Sam 17: 46-51).

Dawid het Goliat verslaan, maar hy moes getrou aan homself wees om dit te kon doen. As hy in Saul se wapenrusting probeer veg het sou hy nie die wapens waarmee hy bekend was kon gebruik het nie. Sy weë was dalk ongewoon aan ander, maar dit het gewerk omdat God met hom was. Dieselfde geld vir jou en my.

Onthou altyd, jy kan nie jou Goliat met Saul se wapenrusting verslaan nie. Jy kan nie iemand anders se vermoëns, persoonlikheid, of hulpbronne gebruik om te bereik wat jy moet doen nie – jy moet getrou wees aan jouself. Om te leer om jouself te wees is noodsaaklik vir enige soort oorwinning in jou lewe. Ander verstaan dalk nie jou uniekheid nie, maar God verstaan en dit is al wat saak maak.

Jy het soveel om vir die wêreld te gee en dit is nou die tyd om dit te begin doen. Dit is ‘n nuwe dag, ‘n nuwe begin vir jou, as jy gereed is om dit aan te gryp. Jy is God se geliefde en Hy het groot planne vir jou, so maak vas jou veiligheidsgordel en maak gereed vir die reis na geloofwaardigheid.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon