… Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en prys sy Naam. (Psalms 100:4 (NLV)
Om dankbaar te wees is belangrik en God se Woord is gevul met instruksies en herinneringe om dankie te sê en dankbaar te wees. Die woorde dank en danksegging kom in ongeveer 100 Bybelverse voor en ons word aangesê om 73 keer te dank. Enigiets wat die Heilige Gees dikwels herhaal, is belangrik vir my en jou lewens.
Ons dankbaarheid behoort eerstens aan God, want sonder Hom sou ons niks hê nie. God is goed. Goedheid is deel van Sy karakter en wese en Hy is heeltyd goed. Hy wil goed wees vir ons en wil hê ons moet goed wees vir ander. Waar goedheid vloei, moet dankbaarheid ook volg.
Wanneer ons ophou om die goeie in ons lewens raak te sien en begin kla, veroorsaak ons baie probleme vir onsself. Ek hou daarvan om te sê, ‘’Waarom knorrig wees as ons dankbaar kan wees?’’
Psalms 100:4 sê dat ons dankbaar moet wees en so moet sê (NLV). Dit is ‘n kragtige opdrag; dit beteken om ‘n hart te hê om alles te waardeer wat gegee word en ‘n mond wat aan God en mense uitdruk deur die woorde wat ons spreek.
Om dankbaarheid uit te spreek deur frases soos dankie of ek waardeer jou, seën nie net diegene met wie ons praat nie, maar dit stel ook iets wonderliks in ons vry. Dit help ons om te besef hoe geseënd ons is en hierdie ingesteldheid gee ons vreugde. Nehemia 8:10 sê ons moenie treurig wees en huil nie.
Omdat dit so belangrik is om konsekwent dankbaar te wees, wil ek ‘n paar eenvoudige maniere deel waar ons ‘n gesindheid van dankbaarheid ‘n daaglikse gewoonte kan maak.
Onthou Jou Seëninge
Terwyl ek ‘n paar jaar gelede een oggend in die bed gelê het, het ek gedink aan mense wat nie in staat is om eenvoudig wakker te word, uit die bed op te staan en hul dag te begin nie omdat hul ‘n rolstoel gebruik of ander beperkings het wat hulle verhoed om dit te doen. Ek het God begin dank dat ek kon loop, praat, sien en hoor – vermoëns waarvoor ek hom nog nie voorheen bedank het nie.
Ons mag hierdie en ander vermoëns as vanselfsprekend aanvaar, maar dit is groot seëninge en ons moet God daarvoor dank. Ek dink ons sal die meeste dinge wat ons maklik dag na dag doen sonder om daaroor na te dink, baie mis as ons nie in staat was om dit te doen nie
Soos die oggend verloop het, het ek gedink aan hoe lekker dit is om warm en koue lopende water in my huis te hê, ‘n warm jas om te dra as die huis koud is en ‘n verwarmer wat maklik verstel kan word om my huis binne ‘n paar minute warmer te maak. Ek het verskeie uitrustings en baie skoene gehad om van te kies, Dit was skaars 8-uur en ek het reeds ten minste 100 goed gevind om voor dankbaar te wees – dinge wat ek normaalweg as vanselfspreknd aanvaar het bloot omdat dit altyd beskikbaar was.
Die apostel Paulus sê dat ons altyd God die Vader moet bedank vir alles (Ef 5:20 NIV). Ek glo ons vreugde sal dramaties toeneem as ons ons seëninge sou begin raaksien eerder as om te aanvaar dat dit altyd geredelik vir ons beskikbaar sal wees. Die waarheid is dat dit nie gelukkige mense is wat dankbaar is nie – dis dankbare mense wat gelukkig is.
Deel die Vreugde
Om dankbaar te wees maak jou nie net gelukkiger nie, maar dit beïnvloed ander op ‘n kragtige manier. Die manier om die beste in mense te ontwikkel, is deur aanmoediging en waardering. In 1 Tes 5:11 sê die apostel, Paulus: ‘’Daarom, soos julle reeds doen, moet julle aanhou om mekaar moed in te praat en geestelik op te bou.’’ Aan die ander kant om die ergste van mense te kry, is deur voortdurend hulle foute na vore te bring sonder om die dinge te noem wat hulle goed doen.
Die betoon van dankbaarheid en aanmoediging bou die gees (die innerlike wese) en versterk mense om harder as ooit te probeer om beter te wees, maar foutvinding breek die gees en laat hulle hopeloos voel en tou opgooi. Wanneer jy iemand aanmoedig, gee jy hulle die moed om aan te hou om hul drome en doelwitte na te streef of om aan te gaan tydens moeilike tye en nie moed op te gee nie.
Baie mense doen ondankbare werk om die lewe vir die mense rondom hulle makliker, skoner of op ander maniere beter te maak. Ons moet moeite doen om diegene te bedank wat ons kantoorgeboue skoonmaak, die badkamers in die winkel waar ons inkopies doen, die werkers wat ons vullis optel, ensovoorts.
My dogter het eenkeer ‘n dankie-kaartjie en ‘n geskenkbewys vir ‘n restaurant gekoop en dit vir die vullisverwyderaar gegee toe hy haar asblik kom haal. Ek is seker daar is talle maniere waarop ons mense kan aanmoedig deur eenvoudige woorde van waardering en dade van vriendelikheid as ons kreatief sou dink.
Wees Doelgerig
Romeine 14:19 is nog ‘n groot skrifgedeelte wat sê Kom ons strewe dus na harmonie onder mekaar en na dit wat ons onderlinge geestelike opbou sal bevorder. (NLV).
Daar is baie praktiese maniere om mense aan te moedig of hulle te bedank vir wat hulle doen in die alledaagse, gewone aspekte van die lewe. Hier is ‘n paar spesifieke voorbeelde van maniere waarop jy dit kan doen:
- Bedank die mense wat pakkies veilig by jou huis aflewer.
- Bedank die persoon wat jou items by die kruidenierswinkel nagaan.
- Bedank die bestuurder van die bus of taxi dat hy jou veilig by jou bestemming bring.
- Vra ‘n bejaarde buurman of jy boodskappe kan doen of enige huishoudelike take vir hulle kan doen. Selfs die verandering van ‘n gloeilamp of lugfilter kan vir iemand bemoedigend of nuttig wees.
- Wanneer jy goeie diens in ‘n restaurant ontvang het, oorweeg dit om, behalwe om dit met ‘n goeie fooitjie te herken, ook te sê, ”Ons waardeer die goeie diens wat jy vandag aan ons gelewer het.”
Ek daag jou uit om kreatief te wees en ander maniere te vind om die mense rondom jou te seën. Almal moet soms aangemoedig word en ons het die mag om ander te help deur waardering en opheffing en dank uit te spreek wanneer ons die geleentheid het om dit te doen.
Ek wil dit weer sê: dankie is kragtig. Dit bevat die krag om ‘n persoon aan te moedig en te motiveer om voort te gaan, die krag om hulle op te hef en wat ‘n slegte dag kon gewees het in ‘n goeie een te verander.