Alledaagse Antwoorde

God het jou Antwoorde

deur Joyce Meyer

God het jou Antwoorde

Die lewe is vol vrae en mense soek antwoorde en leiding op baie plekke. Ons wonder oor ”groot” dinge soos met wie ons moet trou, watter loopbaan ons moet volg, of die beste manier om ons kinders groot te maak.

Ons word ook daagliks gekonfronteer met honderde ”klein” besluite soos wat ons moet eet, hoe ons met ander moet omgaan, hoe ons kies om ons tyd deur te bring … die lys gaan aan.

Die goeie nuus is ons was nooit bedoel om hierdie vrae en uitdagings alleen die hoof te bied nie. Die Heilige Gees is daar as ‘n konstante Metgesel om ons te versterk en te help – om ons in God se volmaakte wil vir ons lewens te lei.

Kyk wat het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘’Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel. ‘’ (Johannes 16:13 NLV).

Ek hou hiervan. Die Heilige Gees wil jou ‘begelei in die volle waarheid.’’ Soos ek genoem het, dit gaan nie net oor die groot goed nie. Hy wil jou help lei in elke klein detail van jou lewe.

”Help my!” het een van my gunsteling gebede geword om te bid! Wanneer ek ‘n boek skryf of bloot my uitrusting vir die dag kies, weet ek dat ek die Heilige Gees kan inroep vir leiding en hulp met enigiets.

Die Gees en die Woord

Ek sê dikwels vir mense dat as hulle leiding van God wil ontvang, hulle hulle daartoe moet verbind om ‘n student te wees. Hoekom? Omdat God hoofsaaklik Sy Woord gebruik om met ons te praat. Die Woord is gevul met Sy wysheid, opdrag en opdragte– dit is vol inligting oor Sy wil vir ons lewens.

Hoe meer ons God se Woord lees, bestudeer en ons gedagtes daarmee vul, hoe intiemer leer ons Hom ken … hoe makliker word dit om te weet wanneer die Heilige Gees tot ons harte praat.

In Johannes 14:26 sê Jesus dat die Heilige Gees … jou alles sal leer ‘’en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’’ (NLV)

Wanneer ons onsself vul met God se Woord – wanneer ons die tyd neem om werklik te weet wat dit sê – werk ons saam met God om Hom te hoor. Wanneer ons verskeie situasies in die lewe teëkom en Sy wysheid en rigting vereis, sal die Heilige Gees ons help om ons te herinner wat Sy Woord sê om te doen.

Ek kan nie vir jou sê hoeveel keer die Here my rigting gegee het of ‘n woord van bemoediging gespreek het deur my op die regte tyd aan Sy Woord te herinner nie.

Daar was ‘n seisoen in my lewe wat God Galasiërs 6:9 gebruik het om my te help om te volhard en nie moed op te gee nie. Oor en oor het die Heilige Gees my bly herinner, ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes.’’
Hierdie boodskap van die Here het my gehelp om in daardie seisoen deur te druk sonder om op te hou. Ek is so bly dat ek die tyd geneem het om te weet wat Sy Woord sê sodat die Heilige Gees my op die regte tyd daarmee kon bemoedig!

Maak ‘n Afspraak met God

In Psalms 46:11 sê die Here, ‘’Wees stil en weet Ek is God!’’ NLV.
Een van die belangrikste dinge wat ons kan doen, is om tyd te neem om ”stil te wees” voor God. Meer as ooit tevore leef mense vandag koorsagtige, haastige en spanningsvolle leefstyle en dit maak dit nog moeiliker om God te hoor praat.

Daarom is dit so noodsaaklik om gereeld tyd te neem om weg te kom en alleen met die Here te wees. Ek moedig jou aan om tyd te spandeer om net stil in Sy teenwoordigheid te sit. Kom weg van alle afleidings en onderbrekings. Neem tyd om te bid en God se Woord te lees, maar neem ook tyd om net te luister.

Ek sal nooit vergeet toe God my hierdie les jare gelede geleer het nie. Daar was tye wat ek so besig geraak het dat dit moeilik geword het om ”God in te pas”. Om tyd af te staan om weg te kom en Hom te soek, is dikwels makliker gesê as gedaan.

Eendag het die Here tot my hart gepraat en gesê,

‘’Moenie probeer om My in jou skedule in te werk nie – werk jou skedule om My.’’


Ons tyd met God is waar alles begin en ons moet alles doen wat nodig is om dit te beskerm, al beteken dit dat ons nie by soveel groepe of aktiwiteite betrokke is nie. Soos ons dit doen, is die beloning so groot – God belowe dat wanneer ons Hom soek, ons Hom sal vind! (Sien Jeremia 29:13).

Wanneer ons God soek, sal Hy dalk nie daardie selfde dag vir ons ‘n antwoord gee nie, maar ons kan verseker wees dat Hy die rigting sal gee wat ons nodig het as ons op Hom vertrou.

Ek onthou een vrou wat ‘n ruk terug na my toe gekom het. Sy het gesê, ‘’ Joyce, ek het regtig een aand gebid en God gesoek oor iets, maar ek het nie gevoel dat Hy iets vir my sê tydens my tyd saam met Hom nie. Ek was moedeloos. ‘n Paar dae later, op pad na my yskas, Bam! Hy het regtig iets spesifiek in my hart kom praat!’’

Ek hou hiervan! As jy nie dadelik ‘n antwoord kry nie, moenie bekommerd wees nie – en moenie ophou om God te soek nie. Soos jy voortdurend by Hom ingeskakel bly, sal jy beter word om Sy leiding te herken wanneer Hy met jou praat.

Ek glo een van die belangrikste lesse is om dit eenvoudig te hou. As jy hulp nodig het, vra net! Dit kan oor enigiets gaan – enige tyd en enige plek. Hoe meer jy die Heilige Gees erken en om hulp vra, hoe meer sal jy Sy leiding en vermoë ontdek in elke enkele ding wat jy doen.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon