Alledaagse Antwoorde

Ontdek die Vryheid om vir God te Lewe

deur Joyce Meyer

Ontdek die Vryheid om vir God te Lewe

Toe God my geroep het om Sy Woord te onderrig, was my uitgebreide familie en vriende nie tevrede nie. Die kerk wat ek bygewoon het was nie tevrede nie, en baie mense het probeer om my gedagtes te verander deur dit duidelik te maak dat as ek sou besluit om voort te gaan met ‘n bediening en die onderrig van God se Woord, ek nie meer welkom in hulle midde sou wees nie.

Ek is gevra om my kerk te verlaat omdat God my geroep het om iets vir Hom te doen wat nie by hulle tradisionele teologie pas nie. Destyds het dit my diep seergemaak, maar later het ek besef dat God hulle verwerping gebruik het om vir my op ‘n plek te kry waar ek kon leer wat Hy wou hê ek moes leer en voortgaan om die persoon te word wat Hy wou hê ek moes wees.

In Galasiërs 1:10, sê die apostel Paulus; ‘’ Hoe klink dit vir julle? Wil ek in mense se goeie boekies kom? Of wil ek God tevrede stel? Probeer ek mense gelukkig maak? As ek nog steeds mense gelukkig wil maak, is ek nie ’n dienskneg van Christus nie. ‘’(NLV)

Voordat hy ‘n apostel van Christus geword het, was Paulus ‘n ywerige en toegewyde Fariseër wat hom dikwels genoodsaak het om Christene te vervolg. Hy het verstaan dat aanvanklik, nadat hy Christus as sy Verlosser aangeneem het, as hy mense se goedkeuring sou soek, hy dit dalk nie sou kry nie as gevolg van sy reputasie as ‘n man wat Christene gejag het om hulle te arresteer en te vervolg.

Al was Paulus nou ‘n veranderde man, net soos baie gelowiges vandag is, glo mense nie altyd ons het verander nie. In plaas daarvan sien hulle ons soos ons in die verlede was en weier om ons as nuwe skeppings in Christus te sien (2 Kor 5:17). Maar God sien wie en wat ons sal word.
Die storie van Paulus se bekering is in Handelinge 9:1-19, en ek dink dit is belangrik om dit in hierdie gedeelte in te sluit sodat ons kan sien hoe hy heeltemal verander is deur ‘n ontmoeting met die lewende Christus. Ek deel sy storie in my eie woorde, maar ek beveel ook aan dat jy dit self lees.

Paulus (bekend as Saulus op hierdie stadium in sy lewe) het steeds dreigemente van vervolging en moord teen die dissipels van die Here gemaak. Hy was ‘n omstander in die skare toe Stefanus, wat ‘n gewaardeerde dissipel in die kerk was, gestenig is en miskien self ‘n paar klippe gegooi het. Hy het toestemming van die hoëpriester van die plaaslike sinagoge gekry om mense wat hy gevind het wie Christene was, gevange te neem en na Jerusalem te bring vir verhoor.

Terwyl hy gereis het en Damaskus nader, het daar skielik ‘n lig rondom hom uit die hemel geskyn. ‘’Hy het op die grond geval en ‘n stem vir hom hoor sê: ”Saul, Saul, waarom vervolg jy my?” ‘’ (Handelinge 9:4). Saul het gevra wie met hom praat en die Here het gesê: ”Ek is Jesus wat jy vervolg. Staan nou op en gaan na die stad en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.’’ (Handelinge 9:5-6).

Diegene wat saam met Saul gereis het, was verstom omdat hulle niemand gesien het nie, maar hulle het die stem van Jesus gehoor en gesien wat met Saul gebeur het. Toe hy van die grond af opstaan, was Saul blind al was sy oë oop. Hulle het hom toe aan die hand na die stad Damaskus gelei. Drie dae lank kon hy niks sien nie en hy het niks geëet of gedrink nie.

Die Here het met ‘n dissipel Ananias in Damaskus gepraat en vir hom gesê waar om Saul te kry en wat om te doen. Ananias was bang omdat hy gehoor het van Saul se gewelddadige reputasie, maar die Here het hom verseker dat Hy Saul as Sy instrument gekies het, daarom het Ananias vertrek om hom te vind.

Hy het in die huis ingegaan waar Saul was en gedoen wat God hom beveel het om te doen. Hy het Saul die hande opgelê en vir hom gesê dat hy deur Jesus gestuur is om hom die hande op te lê sodat hy weer sy sig kan kry en met die Heilige Gees vervul kan word. Dadelik het iets soos skubbe vanuit Saul se oë geval en hy het sy sig teruggekry, opgestaan en is gedoop. Hy het ‘n paar dae daarna by die dissipels in Damaskus gebly en dadelik begin om die evangelie te verkondig wat hy voorheen vervolg het. Hy het verklaar dat Jesus die Seun van God is en almal wat hom gehoor het, was verbaas.


Wat ‘n transformasie! Ek sou dink dat baie van ons wens ons ervaring was so uitstaande, maar God weet wat elkeen van ons nodig het en Hy voorsien dit. Ek is seker Saul het iets nogal skouspelagtig nodig gehad om van plan te verander en God het hom ontmoet waar hy was en hom gegee wat hy nodig gehad het.


Soos ons ons bes doen om vir God te lewe en Sy leiding in ons lewens te volg, sal Hy dieselfde vir ons doen. God het ‘n wonderlike plan vir jou en Hy wil hê jy moet daarin slaag om alles te word wat Hy jou geskep het om te wees. Jy kan Sy doel vervul wanneer jy kies om God eerstens te behaag en jouself vry te maak om mense te behaag.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon