Wat is geloof? Hoe lyk dit om werklik deur geloof te lewe? Dit is belangrike vrae omdat ons die ervaring en seëninge wat God vir ons het deur geloof ontvang.
Hebreërs 11:1 sê, ‘’ Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak’’ (NLV).
Ek hou daarvan om geloof te definieer as die hand wat uitreik en ontvang wat God vir ons het. Deur geloof glo ons wat God in Sy Woord sê waar is, dat dit vir ons is en dat ons alles sal ontvang wat Hy vir ons wil gee. Ons glo ons het Sy beloftes voordat ons dit kry of ervaar.
Almal het geloof, maar nie almal stel hul geloof in God nie. Byvoorbeeld, wanneer ‘n persoon in ‘n stoel sit, het hulle geloof dat die stoel hulle sal hou. Mense ry werk toe omdat hulle vertroue het in die verkeerswette wat dit moontlik maak om op die paaie te reis.
Maar in die eerste plek moet ons ons geloof in God en die waarheid van die Bybel stel.
Romeine 1:17 sê, ‘’ Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”
Hierdie vers openbaar dat ons gered is deur geloof en ons is geskep om deur geloof te lewe. Om deur geloof te lewe, moet ons dit loslaat en daar is drie maniere waarop ons dit doen: bid, sê en doen.
Die Voorreg van Gebed
Gebed is die grootste voorreg wat ons het! Dit is ongelooflik dat ons persoonlik met die Almagtige God, die Skepper van die Heelal, kan kommunikeer! Dit beteken ons kan met Hom praat en Hy hoor ons en Hy wil met ons praat.
Een van die hoof maniere waarop ons God se stem hoor, is deur Sy Woord en daarom is dit vir ons uiters belangrik om die Bybel te bestudeer. Wanneer ons die Woord ywerig bestudeer, kry ons ‘n openbaring van wie God is, hoe Hy ons liefhet en wat Sy wil vir ons lewens is. Ons leer hoe om te bid vir die dinge wat Hy vir ons wil gee … die soort lewe wat Jesus vir ons gesterf het om te hê.
Jakobus 4 sê dat mense in twis, stryery en baklei leef omdat hulle probeer kry wat hulle wil hê en hulle is jaloers op wat ander het, maar hulle kan dit nie self laat gebeur nie. Verse 2-3 sê, ‘’ Julle wil dinge hê wat julle nie het nie, en pleeg dan moord om dit te kry. Julle is jaloers oor wat ander het, en as julle dit nie in die hande kan kry nie, veg en baklei julle om dit by hulle te vat. En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie. En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is – julle wil goed hê net om dit self te geniet’’ (NLV).
Het jy al probeer om iets te kry of iets te laat gebeur en jy is gefrustreerd omdat jy dit nie kan bereik nie? Miskien sukkel jy omdat jy daarna streef om dit in jou eie krag te doen of jy gaan agter dinge aan wat nie reg is vir jou of in God se plan vir jou lewe nie.
Ons moet bid en God vra vir wat ons wil hê, maar ons moet vra vir die seëninge wat Hy vir ons wil gee. Ek bid dikwels so: ‘’Here, ek gaan alles vra wat ek wil hê, maar as ek iets vra wat nie reg is vir my nie, moet dit asseblief nie vir my gee nie. Ek wil eintlik net hê wat U vir my wil hê, want U weet wat die beste vir my is.”
Bid vir die Beloftes van God
Daar is sommige situasies waar ons dalk nie met sekerheid weet wat God se wil is nie en dis dan wanneer ons moet vertrou dat as ons nie kry wat ons dink ons wil hê nie, dit is omdat Hy iets beters vir ons het. Daar is baie dinge waarvoor ons kan vra met sekerheid en vol verwagting dat God dit sal gee omdat Hy dit aan ons in Sy Woord belowe. Hier is ‘n paar:
- Jy hoef nie eensaam te wees nie, want God is altyd by jou (Ps 73:23; Heb 13:50).
- Jy kan vrede hê in elke situasie (Johannes 14:27; Fil 4:6-7).
- Jy kan God se wysheid hê vir elke besluit (Jak 1-5).
- Jy kan die krag hê, in Christus, om te doen wat jy ook al moet doen (Fil 4:13).
- God het jou lief en Hy het ‘n wonderlike plan vir jou lewe (Johannes 3:16; 1Johannes 4:9-10; Jer 29:11).
God het soveel meer vir jou as wat jy tot dusver in jou lewe ervaar het. Maak dit jou nommer een prioriteit om elke dag tyd saam met Hom deur te bring in gebed en Bybelstudie en begin met vrymoedigheid om Hom te vra om vir jou elke goeie ding te gee wat Hy vir jou beplan het.
Plaas jou geloof in God in elke area van jou lewe en alles wat jy doen en jy sal ontdek hoe ‘n wonderlike avontuur dit is om deur geloof te lewe!