Alledaagse Antwoorde

Die Waarheid oor Gebed

deur Joyce Meyer

Laat ek jou iets vra: wat beteken gebed vir jou? Is dit die bron van vrede … of spanning? As jy spanning geantwoord het, het ek goeie nuus – vanaf die begin het God bedoel dat gebed ‘n maklike, natuurlike manier moet wees om die hele dag en elke dag met Hom in verbinding te bly. Terwyl God wil hê dat gebed eenvoudig moet wees, probeer die duiwel ons denke verdraai. Satan probeer ons aandag aflei met ‘’reëls’’ oor hoe om te bid of vir ons sê dat God nie omgee vir kort, eenvoudige gebede nie. Die vyand is bedrieglik en hy doen dit omdat hy nie net weet hoe kragtig gebed kan wees nie, maar ook hoe maklik dit vir ons behoort te wees.

Daar is soveel algemene wanopvattings oor gebed, maar ek vertrou dat jy sal vind dat gebed nie iets is om oor te stres nie. In plaas daarvan is dit een van die beste maniere om vrede en vervulling in jou daaglikse lewe te vind.

Gebed Hoef nie Lank te Wees nie

Miskien is die grootste leuen wat Satan ons oor gebed vertel, is dat dit lank moet neem. Hy sal jou laat dink dat jy ure lank moet bid voordat jy regtig gebid het. Jou gebede hoef nie lank te wees om kragtig te wees nie. As God altyd wou hê ons gebede moet lank en uitgerek wees, glo ek Hy sou net lang, uitgerekte gebede in die Bybel geplaas het. Hy gee altyd vir ons voorbeelde en so baie van die gebede in die Skrif, is kort en bondig. Onthou wat Jesus gesê het: …“Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word.’’… (Matteus 6:7 NLV).

Ek onthou hoe ek ‘n gebedseminaar bygewoon het en waar ‘n ouer vrou vertel het oor hoe sy elke oggend van vyf tot nege bid. Sy het dit al baie jare gedoen en het die genade van God gehad om dit elke dag te doen. Ek het huis toe gegaan vasbeslote om dieselfde ding te doen wat sy gedoen het, maar al wat ek gedoen het was om verveeld en slaperig te raak na die eerste 15 minute!

Mettertyd het ek geleer dat ons nie ons gebedslewe met dié van ander mense kan vergelyk nie. Die vyand is die een wat vir ons sê om ure lank te bid en ons dan skuldig laat voel as ons dit nie doen nie. Dit is goed om slegs ‘n paar woorde bid en dat dit nie langer neem as wat absoluut nodig is nie.

Gebed Hoef nie Perfek te wees nie

Nog een van die vyand se leuens oor gebed is dat ons die ‘’regte woorde’’ moet gebruik of welsprekend moet praat. Ek het letterlik gehoor hoe mense hulle hele manier van praat verander wanneer hul begin bid. Ek weet nie hoekom nie, maar sommige mense praat sommer King James Engels wanneer hulle bid en gebruik woorde wat hulle nooit in die alledaagse lewe sal gebruik nie, soos: O, allermooiste hemelse vader, U allerheiligste God almagtig, ons dank U vir die oorvloedige sorg en ons smeek U vir U oorvloed van seëninge vir ewig,’’ en so meer. Tensy jy in die dae van King James gelewe het, behoort daardie woorde vir jou uit karakter te wees – onnatuurlik en ongemaklik.

Die waarheid is dat gebed ‘n natuurlike uitbreiding van jou unieke kommunikasiestyl moet wees.

God wil hê dat jy gemaklik en opreg met Hom moet wees, soos jy met ‘n vriend sou wees. As jy poëtiese taal praat wanneer jy met jou beste vriend oor die foon praat, gaan voort en gebruik poëtiese taal met die Here. As jy God nader en net probeer om perfek te klink, stop dit dan en wees net jouself.

Ons Kan Enige Plek, Enige Tyd Bid

Die vyand probeer verder om gebed te kompliseer deur ons te laat dink dat ons in ‘n sekere houding of plek moet wees om te kan bid.
Ons dink dikwels oor ‘n situasie en sê dan ons sal later daaroor bid.

Daardie gedagte is ‘n vertragingstaktiek van die vyand. Hy wil hê ons moet uitstel in die hoop dat ons sal vergeet om ons probleme na God te bring.

Die Bybel sê om ‘’te alle tye, by elke geleentheid, in elke seisoen’’ te bid en om ‘’gedurig ‘’ te bid (Sien Efesiërs 6:18; 1 Tess 5:17). Om te bid terwyl ons die begeerte of behoefte het om te bid is eenvoudig en dit is die manier waarop ons in elke situasie gedurende die dag aan God verbind bly.

Trouens, ons kan enige tyd, enige plek bid. Ons kan hardop bid of ons kan saggies bid. Ons kan sit, staan of op die vloer lê en bid. Ons kan bid terwyl ons beweeg of stilstaan. Ons kan bid terwyl ons inkopies doen, wag vir ‘n afspraak, in ‘n vergadering is, huishoudelike take doen, bestuur of in die stort. Ons kan bid, ‘’Dankie Here, vir alles wat U doen,’’ of, ‘’Here, ek het U nodig om my te help,’’ of ‘’Jesus, help asseblief die dame wat so hartseer lyk.’’

Ek dink regtig die ontbrekende bestanddeel in die meeste van ons daaglikse lewens, is die eenvoud van gebed. Die vyand sal altyd probeer om gebed wetties te maak, of vir ons sê ons bid nie genoeg nie of dat ons nie effektief genoeg bid nie. Moenie na daardie leuens luister nie. Ek wil jou aanmoedig om gebed jou eerste reaksie in elke situasie te maak. Wanneer jy dit doen, sal jy die krag en vrede van God in jou lewe sien op maniere wat jou sal verstom!

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon