Alledaagse Antwoorde

Hoe Gesond is jou Hart?

deur Joyce Meyer

Een keer per jaar gaan ek dokter toe vir ‘n ondersoek. Een van die dinge wat hulle elke keer doen, is om my hart na te gaan. ‘n Goeie, deeglike ondersoek sal aantoon of daar enige probleme is wat aangespreek moet word voordat ’n harttoestand ontstaan.

Ek glo ons moet dieselfde ding met ons eie harte doen, geestelik gesproke. Want die waarheid is, almal se hart is in een of ander toestand. Trouens, ons het ‘n verantwoordelikheid om dit te doen soos Spreuke 4:23 vir ons sê, ‘’ Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen’’ (NLV). Gereelde ondersoeke sal ons in staat stel om daardie kwessies vinnig te identifiseer en daarop te reageer – beide fisies en geestelik.

Ons raak so gemaklik met die alledaagse lewe, en bly aan die gang, selfs wanneer ons Christelike dinge doen, en besef nie as iets ongesonds in ons harte ingesluip het nie. Sommige van daardie dinge raak nie net ons nie, maar hulle kan ander ook seermaak of negatief beïnvloed. Hoe langer ‘n probleem, of harttoestand, onbewaak gelaat word, hoe dieper gaan sy wortels. Dit word dan moeiliker en moeiliker om te hanteer. Die goeie nuus is dat ons dit met God se hulp kan voorkom.

Toets en Bewaar jou Hart
Om jou hart behoorlik te bewaar, is dit belangrik om te verstaan wat dit beteken. Wanneer ek praat oor die toestand van jou hart, praat ek van wat binne-in jou is – wat dit ook al is wat jou laat doen wat jy doen.

Byvoorbeeld, hoeveel keer het jy iets gedoen of gesê waarop jy nie baie trots is nie en gedink het, ek kan nie glo ek het dit gedoen nie! Wel, God laat toe dat sommige situasies gebeur om vir ons te wys wat in ons hart is. Dit is soos wanneer ek my jaarlikse ondersoek kry, die dokter gaan my hart na deur sekere toetse uit te voer. Daardie toetse is ontwerp om te ontdek of iets verkeerd is of om te bevestig dat alles in orde is.

Net so beproef God ons om vir ons te wys wat in ons hart is. Hy doen dit nie om ons skaam te laat voel of in die verleentheid te stel nie. Hy wil net hê ons moet sien wat aangaan sodat ons ons probleme in die gesig kan staar, dit met die hulp van die Heilige Gees kan hanteer en sterker kan word in Christus.

Ons hart beheer uiteindelik ons gedrag. So, wanneer ons iets sê of doen wat ons ”verbaas” laat, as ons regtig eerlik met onsself sal wees (en teenoor God) en dink oor dit, sal ons die wortel van daardie aksie ontdek.

God stel meer belang in ons motiewe – die hoekom agter die wat. Matteus 5:8 sê, ‘’ Gelukkig is dié wie se harte volkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien.’’ Hy kyk nie so noukeurig na ons uiterlike optrede as wat Hy kyk na wat dit motiveer nie. Wat in ons is, is die wortel wat dit voortbring. God is baie meer bekommerd dat die dinge wat ons doen uit ‘n suiwer Heilige Gees-geleide hart kom.

Motiewe is Soos Blare
Die les van die vyeboom in Matteus hoofstuk 21, gee ons ‘n goeie uitbeelding van motiewe. Ek kon eers nie verstaan hoekom Jesus ‘n arm boom sou vervloek net omdat dit net blare aan het nie. Ek sien toe dat Hy weet dat wanneer ‘n vyeboom blare dra, dit beteken dat daar vrugte onder hom lê. Jesus was honger en die vyeboom het die verkeerde boodskap gegee.

Soms te midde van wat ons doen, moet ons stop en dink oor hoekom ons dit doen. Is dit om gesien te word … om iemand te beïndruk … vir die toekennings … of is dit omdat ons regtig omgee?

Kry ‘n Ondersoek
Ons moet seker wees dat wat ons doen, ons dit vir die Here doen en nie vir enige ander doel nie. Mense in hierdie wêreld is geestelik honger. As Christene is dit nie genoeg vir ons om net rond te gaan en ons ”blare” te vertoon nie, dinge wat ons net soos gelowiges laat lyk nie. Ons moet vrugte dra onder daardie blare. Wat is ons vrugte? Dis liefde … om mense lief te hê, hulle te help, te gee; nie net ons geld nie, maar ons tyd, ons pogings en onsself. Mense moet liefde in aksie sien.

Om ‘n hart te hê wat reg is met God is absoluut die beste ding wat ons vir onsself kan doen. Daarom moedig ek jou aan om op ‘n gereelde basis ‘n geestelike hart-”ondersoek” te doen: ontmoet jouself en wees eerlik met jouself oor jou motiewe. Werk saam met die Heilige Gees en Hy sal jou help om jou hart rein en in ‘n goeie toestand te hou sodat jy ander Sy liefde kan wys in alles wat jy doen.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon