Alledaagse Antwoorde

Jy is nie Gemaak vir ‘n Skuldlas nie!

Word jy gekwel deur ‘n skuldige gewete, dra jy bagasie rond van ‘n sekere fout of besluit wat gevoelens van spyt en selfs selfveragting veroorsaak? Ons het almal dinge gesê of gedoen wat ons wens ons kon terugneem.

Alhoewel dit heeltemal natuurlik is om spyt te wees oor ‘n slegte besluit of fout wat jy gemaak het, is dit nie God se plan dat jy met skuldgevoelens en veroordeling moet leef nie. Jesus het gekom om jou vry te maak van daardie soort lewe (sien Johannes 3:16-17; Romeine 8:1).

As gelowiges in Christus, vergewe God ons sondes volkome. Psalm 103:12 sê, ‘’ So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons ’’ (NLV).

Dis hoe wonderlik God se liefde is! Wanneer jy Sy beloftes van vergifnis vertrou, sal enige skuldlas wat jy het van jou skouers gelig word.

Verbreek die Skuldgevoelens
Ek het vir baie jare ‘n vreeslike probleem met skuldgevoelens gehad. Ek het grootgeword in ‘n bose, onstabiele vernederende atmosfeer, wat veroorsaak het dat ek ‘n negatiewe, kwaai, veroordelende volwassene geword het. Gevolglik het ek nie van myself of enigiemand anders gehou nie en ek het dikwels my op maniere gedra waaroor ek later spyt was, veral in my verhoudings.

Deur die jare het skuldgevoelens so by my ingeburger geraak dat dit net nie reg gevoel het as ek nie skuldig gevoel het nie. Ek het daardie negatiewe gevoelens saam met my gedra in die vroeë jare van my bediening. Byvoorbeeld, wanneer ek na God gegaan het vir gebed, sou ek outomaties op twee dinge fokus – my probleme en my foute.

Ek sal nooit die oggend vergeet wat God met my gepraat en gesê het, ‘’ Joyce, gaan jy tyd saam met My deurbring, of gaan jy aanhou fokus op jou sondes?’’ Op daardie oomblik het ek besef God is nie kwaad vir my nie; Hy is lief vir my. Hy het my aangemoedig om die dooie gewig van my skuldlas te laat val.

God Verwag nie Volmaaktheid nie
Baie mense sukkel met skuldgevoelens omdat hulle dink God verwag meer van hulle as wat hulle kan lewer. Sommige mense dink selfs Hy verwag volmaaktheid, maar dit kan nie verder van die waarheid wees nie.

In Romeine 3:23 sê God se Woord, ‘’ Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.’’ Die Bybel sê ook, ‘’ Maar hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword’’ (Romeine 5:20). Hierdie vers sê nie jy moet ‘n lamlendige lewe lei en sondig soveel as wat jy wil nie; dit beteken wanneer jy op enige gebied van jou lewe tekort skiet aan volmaaktheid, sal jy altyd nog ‘n kans hê om terug te staan, dit af te skud en weer te probeer met God se hulp.

Wat Verwag God van Ons?
Die apostel Paulus verduidelik wat God van ons vereis in Filippense 3:12-14, ‘’ Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het! Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.’’

God verwag net eenvoudig van ons om te groei en ons kan dit nie doen wanneer ons vasgevang is in skuldgevoelens nie. In Christus kan ons vergeet van wat agter ons lê – die dinge wat ons nie kan verander nie – en ons bes doen in die huidige oomblik.

Een ding wat my gehelp het om oor my skuldgevoelens te kom (waaraan ek daagliks gedink het) is om te besef dit is geheel en al nutteloos. Dit het my beslis nie gehelp om beter op te tree nie. Dit het my net erger laat voel.

Hardloop Teen Jou Eie Pas
Ons sal nooit volmaak wees in hierdie lewe nie en God weet dit. Hy is vol genade en Hy wil nie hê jy moet elke dag opstaan en jou bekommer oor wat jy gister gedoen het of wat jy dalk vandag verkeerd kan doen nie. God wil hê jy moet Sy liefde vir jou vertrou en Sy vergifnis ontvang sodat jy vorentoe kan beweeg, heeltemal sonder ‘n skuldlas.

Jesus sê; ‘’ Hou aan bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volledig kan wees (Johannes 16:24).

Wanneer jy God om Sy vergifnis vra, moenie net daar stop nie. Neem ‘n oomblik en ontvang Sy vergifnis. Sê hardop: ”God, ek ontvang U vergifnis. Dankie dat U my ‘n nuwe begin gegee het. Deur dit wat U vir my gedoen het, is ek vervul met blydskap.”

Jy hoef nie meer tyd te mors om op jou foute en swakhede te fokus nie. Spandeer tyd saam met God en leer uit Sy Woord. Onthou, God het jou lief en hy moedig jou altyd aan tot oorwinning.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon