Geloof in God is ‘n grondbeginsel van die Bybel. Dit is die sleutel om die beloftes te ervaar wat ons in die Woord van God vind. Jesus sê byvoorbeeld vir ons in Johannes 10:10 dat ‘’Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig “ en dat Hy gekom het ‘’sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het’’ (NLV).
Om ‘n Christen te wees gaan nie oor ‘n ”handelsmerk” van godsdiens nie; dit gaan alles daaroor om oorvloedige lewe te hê deur ‘n persoonlike intieme verhouding met God. Dit is ‘n lewe wat ons kan geniet!
Ons kan nie hierdie lewe hê tensy ons weet wat die Bybel sê en dit deur geloof ontvang nie.
Romeine 12:3 (NLV) sê, ‘’ God het geestelike toerusting wat aan jou toebedeel is.’’ Elke mens het geloof, maar die vraag is waarin stel jy jou geloof?
Wie of wat vertrou jy regtig om jou lewe te laat uitwerk soos dit moet?
Wanneer ‘n persoon hulle geloof in Christus stel vir redding, vertrou hulle dat Jesus alles gedoen het wat gedoen moet word sodat hulle van hulle sonde vergewe kan word en hulle geregverdig is. Ef 2:8-9 (NLV) sê, ‘’ Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie,’’
Dieselfde manier waarop ons gered word – om te glo en te vertrou wat Christus gedoen het – is dieselfde manier waarop ons veronderstel is om te lewe: deur geloof!
Hoe leef ons deur geloof of stel ons ons geloof vry, om die beloftes van God te ervaar?
Ek onthou toe ek elke week kerk toe gegaan het, maar ek het geen idee gehad van die seëninge wat God vir my as gelowige in Christus gehad het nie. Ek het nie by enige van dit baat gevind nie, want ek het nie geweet wat dit was nie en ek het nie ‘n benul gehad dat ek my geloof kon vrystel om dit te hê nie.
Toe ek God se Woord ernstig begin bestudeer het, het ek ontdek wat vir my beskikbaar was deur Christus en hoe om my geloof vry te stel om te ontvang wat Hy vir my wil gee. Dis toe dat God wonderlike dinge in my lewe begin doen het: om my siel te genees van die verskriklike misbruik van my verlede; my hoop te herstel dat ek ‘n wonderlike lewe kan hê, nie ‘n tweederangse plan nie, want ek was ”geskend” en my geneem van ellende en vol selfbejammering tot ware vreugde en vrede in my siel.
Die sleutel tot effektiewe vrystelling van jou geloof is om jou geloof op God se Woord te baseer. Daarom is dit so belangrik om die Bybel ywerig te bestudeer. Dit is absoluut vol van al die seëninge wat Jesus met Sy bloed gekoop en betaal het. Ons moet die Bybel verslind en onsself elke dag herinner aan hoeveel God vir ons gedoen het.
Byvoorbeeld Jeremia 29:11 sê, ‘’Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê’’ (NLV). God het jou lief en Hy het ‘n goeie plan vir jou … maar dit gaan nie net vanself gebeur nie. Jy moet jou geloof vrystel om dit te hê.
Geloof is ‘n geweldige krag in jou gees en wanneer jy dit gebruik, is dit wanneer dinge gebeur. Jy moet iets doen, iets sê, iets bid – een of ander aksie neem op grond van wat jy glo God in jou hart geplaas het.
Baie jare gelede toe ek gevoel het dat God wil hê ek moet begin om Bybelstudie te onderrig, het ek geen idee gehad hoe om dit te doen nie. Maar ek het ‘n diep begeerte gehad om mense te help en hulle God se Woord te leer.
My aanvanklike reaksie was ”Wie gaan kom? Niemand ken my nie … niemand gee om wat ek te sê het nie. En ek weet nie hoe om te onderrig nie!” Die Here het tot my hart gepraat en gesê: ”Ek weet.” My eerste stap was om te sê: ”Goed, ek sal dit doen.” My volgende stap was om ‘n paar mense te nooi … en vreemd genoeg het hulle ja gesê!
Dit was stappe van geloof vir my. Ek kon so bang gewees het vir mislukking, my swakheid en my onvermoë, dat ek nie eers sou probeer nie. Ek moes ”uitgaan en uitvind” of dit regtig God se rigting vir my was.
Die eerste Bybelstudie het uit 12 mense bestaan, daardie groep het tot 25 gegroei, en soos ek voortgegaan het, het dit ons uiteindelik gelei om die bediening te begin wat ons vandag het.
Ek wil jou aanmoedig om nie tevrede te wees met ‘n passiewe bestaan wat deur vrees of mislukking, verandering, verwerping of enigiets anders beheer word nie. Wees eerder vasbeslote om alles te hê wat God vir jou het.
Bid oor die begeertes in jou hart of vra God om jou te wys wat Hy vir jou beplan het. Wanneer jy ‘n idee het, bid vir spesifieke wysheid om ‘n stap te neem … om aksie te neem op grond van jou geloof in God.
As jy regtig die lewe wil hê wat God vir jou het, sal jy ‘n kans moet waag – jy sal moet uitgaan en uitvind. Kies om jou geloof in God te stel, want dit is wanneer wonderlike dinge vir jou sal begin gebeur!