Alledaagse Antwoorde

Gelukkig en Nederig

deur Joyce Meyer

Jesus sê in Matteus 5:3 (NLV), “Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is húlle deel.’’
Nederigheid is nie ‘n baie populêre woord nie. Tog, regdeur die Bybel, onderrig die Here ons oor die voordele van nederigheid. Ek hou van Jakobus 4:6, ‘’ God is egter besig om ons steeds meer genade te gee om aan Hom getrou te wees. Daarom sê die Skrif: “God weerstaan hoogmoedige mense, maar aan nederige mense gee Hy genade.” Met ander woorde, Hy help die nederiges!

Ek glo nederigheid word dikwels verkeerd verstaan en selfs as ‘n swakheid beskou. Dis presies die teenoorgestelde. Nederigheid plaas ons in die posisie om God se genade te ontvang en alles te word wat God ons geroep het om te wees.

‘n Nederige persoon is ‘n gelukkige persoon en oor die algemeen gevul met vreugde. Hulle kan vreugde geniet in die lewe en dit wat God hul geroep het om te doen, ongeag wat die wêreld daaroor dink.

Byvoorbeeld, jy dink dalk jou huidige omstandighede en verantwoordelikhede is alledaags. Die trotse persoon wil altyd iets doen wat hulle dink die wêreld sal bewonder … iets wat ander as ‘’belangrik’’ beskou. Die waarheid is dat ons nie iets belangriks hoef te doen om belangrik te wees nie.

Ons is belangrik omdat God ons liefhet en waardeer. Ons waarde kom van Hom af. Soos ons Sy liefde ontvang en ons ware waarde as Sy kinders vind, dan kan ons werklik ons doel in die lewe geniet en in tevredenheid lewe.

So baie mense is ellendig en vergelyk hulself gedurig met ander wat hulle as slimmer, mooier en meer suksesvol beskou. ‘n Persoon met ‘n nederige gesindheid het die vermoë om gelukkig te wees met wie hy is.

Dave, my man, is so ‘n persoon. Jare gelede het die Here hom opdrag gegee om sy werk in die ingenieursveld te verlaat om die Joyce Meyer Bediening te help stig. In daardie tyd het God met sy hart gepraat en gesê, ‘’As jy doen wat ek jou roep om te doen en Joyce toelaat om te doen waarvoor ek haar geroep het, sal jy baie vrede en geluk hê.’’

Dave is ‘n uiters belangrike deel van my bediening en sy wysheid in finansies en administrasie het gehelp om die Joyce Meyer Bediening te bou tot wat dit vandag is. Dit verg egter ‘n waarlik nederige man – ‘n man wat geborge voel en weet dat God hom goedkeur – om dit goed te vind dat sy vrou op die voorgrond is.

Ek kan eerlik sê dat Dave een van die gelukkigste mense is wat ek ken. Hy weet wat God hom gevra het om te doen en hy doen dit met vreugde.

Wat is sommige karaktertrekke van ‘n nederige persoon?

  1. Die nederige persoon kan altyd vir hulp vra en dring nie daarop aan dat dit op hul manier gedoen word nie.
  2. Hulle is vinnig om ander te vergewe, moeilik om aanstoot te gee en tevrede om op God te wag vir regverdiging wanneer hul verontreg was.
  3. Hulle is geduldig en raak nie gefrustreerd met die swakhede van ander nie.
  4. Die nederige mens is ‘n vredemaker. In werklikheid het ons nederigheid nodig om vrede in ons lewens te handhaaf. Romeine 12:16 (NLV) sê,’’ Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder. Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie.’’ Dink net, as ons almal besluit om net hierdie een opdrag uit die Bybel aan te neem. Dis die manier wat tot vrede lei met onsself en ander.
  5. ‘n Nederige persoon weet wanneer om stil te bly. Dit is beslis nie verkeerd om te praat nie, maar ‘n nederige persoon is gemaklik om ander toe te laat om die middelpunt te wees en voel nie die behoefte om hul mening in elke situasie uit te spreek nie.
  6. ‘n Nederige persoon sien sy eie swakhede raak en kan dit geredelik erken. Wanneer ons onsself oopmaak teenoor ander, kan dit hulle eintlik aanmoedig en help om te besef dat hulle nie die enigste is wat probleme het nie.
  7. ‘n Nederige persoon voel gelukkig om ander te kan bedien en hulle doen dit nie om ander te beïndruk nie. Hulle doen dit vir God met die wete dat hul beloning van Hom af sal kom.
  8. ‘n Nederige mens is baie dankbaar. Dit is een van die redes waarom hulle altyd so gelukkig is. Wanneer ons met ‘n gesindheid van dankbaarheid leef, stel dit krag en vreugde in ons lewens vry.
  9. ‘n Nederige persoon het ‘n teer gewete en is vinnig om te bely.
  10. ‘n Leier wat werklik nederig is, behandel almal met respek. Hoe ‘n leier mense behandel, is die vinnigste manier om hul vlak van nederigheid uit te vind.

In Johannes 15:5 (NLV) sê Jesus, “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.’’

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek die belangrikheid van nederigheid. Ek bid dikwels dinge soos, ‘’Here, sonder U vandag kan ek absoluut niks doen nie. Help my asseblief, ek het U genade nodig in elke situasie.’’

Ek moedig jou aan om te bid en God se hulp te vra. Laat Hom weet dat jy niks sonder Hom kan doen nie. Vra Hom om jou te help om ‘n houding van nederigheid teenoor jouself en ander om jou te kweek. Soos jy dit doen, sal Hy jou die genade gee om alles te word wat Hy jou geskep het om te wees… en jy sal die reis waarlik geniet.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon