Alledaagse Antwoorde

Hoe Gedagtes Jou Emosies Aanwakker

deur Joyce Meyer

Ons gedagtes is so belangrik. As jy vertroud is met my leringe, weet jy dit is iets waaroor ek baie praat. Ons gedagtes is die voorlopers vir die res van ons lewe. Wat ons dink beïnvloed ons woorde, gemoed, houdings en, uiteindelik, ons dade.

Daar was tye wat ek regtig ‘n wonderlike dag gehad het, maar toe het ek begin dink aan ‘n kwetsende ding wat iemand vir my gesê het. Hoe meer ek daaraan gedink het, hoe kwater het ek geword. Omdat ek myself toegelaat het om vas te haak by daardie seer gedagtes, het ek al die ou gevoelens aangewakker. Dit was soos om weer van vooraf seer te kry.

Soveel van ons gedrag – hoe ons optree en reageer – begin by ons gedagtes. Ek glo as ons werklik wil leer hoe om ons emosies te bestuur, moet ons ons gedagtes in die regte rigting stuur.

1 Petrus 1:13 sê, ‘’ Sien daarom met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe ‘’… (NLV). Min onderrig hierdie vers, maar dit beteken eenvoudig om jouself geestelik voor te berei en gereed te maak van wat kom.

Ek glo dit help baie om geestelik voor te berei vir die dag. Ons wil almal graag hê dinge moet heeltyd perfek verloop, maar dit is onrealisties om te dink ons sal nooit enige uitdagings teëkom nie – uitdagende mense of omstandighede wat ons geduld op die proef sal stel en ons in die versoeking bring om op te tree.

Kol 3:2 (NLV) is nog ‘n belangrike Skrifgedeelte. Dit sê, … Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie … Hoe kan ons ons gedagtes rig? Ek glo dat net n paar minute in die oggend om ons ingesteldheid en houding aan te pas, kan sake aan die roer stuur.

Daar is tye wat ek vir myself sê:

‘’Ek kan vandag vriendelik en beleef wees, ongeag wat gebeur. Ek kan geduldig wees want ek het die vrug van die Gees binne-in my. God sal my krag gee om in liefde te wandel met ander en te doen wat reg is.’’

As jy weet jy gaan dalk ‘n sekere persoon of situasie teëkom wat dalk uitdagend kan wees, dink vooruit en neem ‘n vaste besluit oor hoe jy sal optree en reageer. Wanneer jy jou dag begin, neem ‘n minuut om te bid en God se hulp te vra.

Jy kan dinge bid soos:

‘’Here, U weet alles van my en U weet alles wat ek vandag sal teëkom. Ek gee hierdie dag aan U en vra U krag en hulp om ander lief te hê in alles wat ek sê of doen. Help my asseblief om op die regte manier te reageer ten spyte van hoe ek voel. Heilige Gees, ek dank U dat U my die vermoë gegee het om myself te beheer en ek vra U hulp en leiding in hierdie situasie. In Jesus Naam, amen.’’

Ons het altyd emosies – dit sal nooit sommer net weggaan nie. Met God se hulp kan ons leer om dit te bestuur. Ons kan leer om ander lief te hê en emosioneel stabiel te wees, selfs wanneer alles om ons buite beheer lyk.

God is wonderlik en ek is ‘n getuienis van die groot dinge wat Hy al in my lewe gedoen het. Ek dink een van die grootste dinge wat Hy gedoen het is om my te help groei en volwasse te word in Hom – om bestendig en stabiel te bly wanneer iemand of iets my verkeerd opvryf en my emosies ‘n verkeerde reaksie ontlok. As Hy dit vir my gedoen het, kan Hy dit vir jou ook doen.

Onthou, Jesus is ‘’ons Rots’’ en wanneer die storms kom en dreig om jou emosies oor te neem, kan jy, op kort kennisgewing, na Hom gaan vir krag en hulp. Terwyl jy dit doen, sal Hy jou help om jou emosies te bestuur … en bestendig en stabiel bly in elke omstandigheid.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon