Ek wil jou ‘n eenvoudige vraag vra: wanneer laas het jy vir jouself gesê, Iets goeds gaan met my gebeur?
Ek hoop jy het dit onlang gesê, maar as jy soos meeste mense is, is dit waarskynlik lank gelede. Laat my vertel hoekom dit gebeur…
Ek dink ons natuurlike neiging, afgesien van God, is om op die negatiewe te fokus. Dis maklik om te konsentreer op alles wat kan verkeerd gaan. Dit verg nie veel moeite om te mediteer oor hoe dinge dalk nie mag uitwerk soos ons gehoop het nie.
Die media is ook hoofsaaklik gevul met negatiewe nuus. Dit is bewys dat negatiewe nuus die aandag trek. Hoe meer skokkend, hoe meer dreigend en hoe meer afgryslik dit is, hoe meer potensiaal het dit om ons te beïnvloed, hoe vinniger versprei die boodskap.
Die kern is dat as ons op die goeie gaan fokus, dit ‘n keuse moet wees!
‘’Moet Nie Vrees Nie’’
Wil jy iets bemoedigend hoor? God sê ‘’Vrees nie’’ 365 keer in die Bybel. Hy wil nie hê ons moet bang, angstig of bekommerd wees nie. Hy wil hê ons moet vertrou dat Hy in beheer van ons lewens is, Hy is lief vir ons en is groter as ons grootste vrese.
Hy wil hê ons moet sê, ‘’Iets goeds gaan met my gebeur!’’ Die meeste mense dink aan die ergste ding wat met hulle kan gebeur as ‘n manier om hul vrees te hanteer. Hul probeer vir hulself sê, Goed wat is die ergste wat kan gebeur? Ek sou dit seker kon hanteer.
Hulle dink dat hul die vrees onder beheer gehou het, maar wat eintlik gebeur is dat donker negatiewe gedagtes insluip. God het nie een van Sy kinders geskep om so te lewe nie. Hy wil hê jy en ek moet fokus op Sy liefde en goedheid.
Jy kan nie vrees oorwin deur logies en rasioneel te wees nie – as jy op jou eie krag staatmaak, sal dit jou in die steek laat. Hoe jy vrees hanteer is om op God se beloftes te vertrou, Sy groot liefde vir jou te ontvang en dit te glo.
Ek het ‘n opdrag vir jou. Elke keer wanneer jy ‘n vreesaanjaende gedagte het, moet jy doelbewus stop en vir jouself sê, ‘’God het my nie verlaat nie, Hy is met my en Hy is in beheer van my lewe. Iets goeds gaan vandag met my gebeur!’’
Hou op om jouself in die ergste scenario te dompel en begin om jouself te verdiep in dinge wat veroorsaak dat jy slegs die beste verwag. Dit is dalk aanvanklik nie maklik nie, maar jy kan jou gedagtes instel om groter dinge te begin verwag.
Glo Dit!
God wil hê ons moet glo. Wat wil Hy hê moet ons glo? Hy wil hê ons moet elke enkele ding glo wat Sy Woord sê. Hy wil hê ons moet glo dat Hy ons liefhet, Hy het ‘n wonderlike plan vir ons toekoms en dat Hy op hierdie oomblik namens ons werk (sien Rom 8:38; Jer 29:11, Rom 8:28).
God wil hê jy moet aktief glo en verwag dat goeie dinge met jou gaan gebeur. Wanneer jy dit doen vul dit jou lewe met hoop.
Ek hou van Rom 15:13. Dit sê, ‘’Ek bid dat dié God wat aan ons ’n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees.’’ Wanneer ons kies om te glo wat God sê, bring dit vir ons vrede en vreugde. Die keuse om negatief te wees, is ‘n laagtepunt. Wanneer ons kies om te glo, beur dit ons op.
Ek was voorheen ‘n ongelooflike negatiewe mens. God het my egter gehelp om dit om te draai. Vandag neem ek die tyd om doelbewus stil te staan by die goeie dinge wat Hy nog gaan doen. Sommige oggende sal ek doelbewus gaan sit en my gedagtes vir die dag instel. Ek sal verklaar, ‘’Iets goeds gaan vandag met my en deur my gebeur!’’
In plaas daarvan om te vrees wat ek alles moet doen of wat verkeerd kan gaan, kies ek om die beste te verwag en te glo dat God alles onder beheer het.
Miskien is jy soos ek was. Miskien is jy van nature ‘n ‘’glas-half-leeg tipe persoon. Indien wel, daag ek jou uit om te begin verwag dat God wonderlike dinge in jou lewe sal doen. Sien uit na hoe Hy Sy Woord namens jou gaan uitvoer. Lees die Woord en ontvang elke belofte vir jouself.