Dit is onvermydelik dat ons deur wanhoop in hierdie lewe sal gaan. Jesus vertel ons in Johannes 16:33, … ‘’Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.” (NLV)
In moeilike seisoene voel jy dalk lus om tou op te gooi. Of jy voel dalk vasgevang en weet nie hoe om aan te gaan nie. Wanneer jy aan hoop vashou en jou vertroue in God stel, sal Hy vir jou ‘n pad oopmaak. Hy kan alles waardeur jy gaan ten goede laat meewerk (Sien Romeine 8:28).
In my kinderjare, so ver terug ek kon onthou, tot ek op die ouderdom van 18 die huis verlaat het, was ek seksueel, geestelik, emosioneel en verbaal mishandel deur my pa. Hy was vir die grootste gedeelte van sy lewe ‘n gemene, beherende, manipulerende persoon. Eintlik was hy onvoorspelbaar en onstabiel. Gevolglik was die atmosfeer in ons huis gelaai met vrees.
Die seksuele misbruik het begin toe ek nog baie jonk was en toe hy besluit het ek is volwasse genoeg, het hy dinge verder geneem. My pa, wat ek veronderstel was om te kon vertrou en wat veronderstel was om my veilig te hou, was die persoon wie ek die meeste gevrees het.
Jy wonder dalk, Joyce, waar was God in dit alles? Hy was daar. Hy het my nie uit die situasie gehaal nie, maar Hy het my die krag gegee om daardeur te kom. Dit is waar dat my pa my mishandel het en my nie liefgehad en beskerm het soos hy moes nie en soms het dit gelyk of dit nooit sou eindig nie. Dit was maklik om moed te verloor.
God het altyd ‘n plan met my lewe gehad. Hy het dit, wat Satan as kwaad bedoel het, geneem en dit in iets goeds verander. Ek kan eerlik vir jou sê dat God my verander het van negatief en pessimisties wees na iemand wat vol hoop is en altyd Sy goedheid om elke draai verwag.
Wat is Hoop?
Ek sê graag dat hoop die selfversekerde verwagting is dat iets goeds gaan gebeur. ‘n Hoopvolle persoon weier om negatief te wees selfs wanneer hul die storms van die lewe moet hanteer en bly hoopvol in gedagtes, gesindheid en gesprek.
Toe ek God se Woord begin bestudeer het, het ek ware hoop ontdek. ‘n niks-is-onmoontlik-met-God gesindheid en ‘n bewustheid dat God eintlik verwag, soek en verlang om jou Sy goedheid te wys (Sien Jesaja 30:18).
Die Bybel noem hierdie hoop die anker van ons siel – ons verstand, wil en emosies. In Hebreërs 6:19 staan, ‘’Hierdie vooruitsig is soos ’n betroubare en stewige anker – ’n anker wat onbeweeglik vasgemaak is in die Allerheiligste van die hemelse heiligdom, net agter die binneste gordyn ‘’… dit beteken dat wanneer alles donker lyk … wanneer dit lyk asof niks sin maak nie en dit voel of God se beloftes nooit in ons lewens sal gebeur nie, is hoop ons anker wat ons terugtrek en wat sê, ‘’Hou vas. Jou hulp is op pad!’’
Ek het oor die jare geleer dat God wil hê ons moet ‘n lewe vol van hoop lei – bly glo en groot dinge van Hom verwag. Ek praat nie van ‘n flou, vae, ‘’laat-ons-sien-wat-gebeur‘’ gesindheid nie, maar eerder vertrou dat Hy sal doen wat hy belowe het. Ek praat van Bybelse hoop.
Wat Om te Doen Wanneer Jy Vassteek
Het jy al ooit ‘n plek in die lewe bereik wat soos ‘n doodloopstraat gevoel het – asof jy geen hoop meer het nie?
Die storie van Josef in Genesis (hoofstukke 37-50) is ‘n groot voorbeeld van dit. Die Bybel sê dat hy die gunsteling van sy pa se 12 seuns was en sy broers was baie jaloers op hom.
Eendag het Josef ‘n droom wat hy gehad het met sy broers gedeel. In sy droom het hulle almal voor hom gebuig. Nodeloos om te sê hulle het dit nie goed ontvang nie! Gevolglik het die broers bymekaar gekom om te besluit hoe om van Josef ontslae te raak. Eers het hulle hom in ‘n put gegooi om hom daar te laat sterf. Later het hulle besluit om hom as ‘n slaaf aan ‘n groep reisigers te verkoop. Hulle het toe ‘n plan beraam om hul vader van Josef se dood te oortuig.
Die storie het ‘n goeie einde – Josef word tweede in bevel na Farao, word uiteindelik met sy familie herenig en alles is vergewe.
Wat met Josef gebeur het, is ‘n bewys dat dit nie saak maak waardeur jy in die lewe gaan nie, daar is altyd hoop. Die deel van sy storie wat ek regtig wil hê waarop jy moet fokus, is wat tussen die put en die paleis gebeur het. Josef is deur sy broers verkoop in slawerny, valslik beskuldig en in die tronk gegooi. Toe is hy deur almal, wat hy langs die pad gehelp het, vergeet. Weens sy geloof in God, het hy nooit hoop verloor nie.
Wat moet jy doen as jy vasgeval het in jou put?
- Moenie moed verloor nie. Beveg die versoeking om te dink daar is geen uitweg uit jou situasie nie. Jesus is die Weg. Dit is jou tyd om nader aan Hom te kom en Hom te volg (sien Fil 4:13).
- Vermy dit om God te blameer en te dink dat Hy jou vir een of ander sonde straf. Hy gebruik net die situasie om in jou lewe te werk en alhoewel dit dalk nie altyd goed voel nie, sal Sy doel altyd vir jou ten goede wees (sien Romeine 8:28).
- Doen wat reg is, selfs wanneer jy seer het, wanneer dit nie reg voel nie of wanneer ander jou sleg behandel. Doen so gereeld as wat jy kan iets goeds vir soveel mense vir wie jy kan (Gal 6:9).
- Moenie jou onttrek,nukkerig wees of isoleer van ander nie. Onthou, jy kan miserabel of kragtig voel, maar jy kan nie albei wees nie. Baie keer mag God ander gebruik om jou in hierdie tyd aan te moedig (sien Joshua 1:9).
- Hou jou woord en eer jou verpligtinge. Dit is ‘n karakter-bou tydperk en jy word voorberei om jou plek in die ‘’paleis’’ in te neem (sien 1 Joh 2:5).
- Moenie ophou glo nie! Moenie moed opgee dat God jou situasie kan verbeter nie! (sien Jer 29:11)
Die Bron van Ons Hoop
Hoop is net so sterk as die bron daarvan. Daarom moet die fondament van ons hoop God wees en die beloftes wat in Sy Woord gevind word. As God nie die bron is nie, is hoop net ‘n wensgedagte. Die hoop wat ek jou aanspoor om te hê is baie anders as die hoop wat die wêreld sien. Dit word gevind in die onwrikbare, almagtige, alwetende en ‘n altyd-teenwoordigende een ware God en Sy Seun, Jesus Christus.
Wanneer ons ‘n verhouding met Christus het, vul dit ons met hoop en vertroue, want ons besef Hy is groter as enige situasie wat ons ooit sal teëkom.