As jong vrou het ek vir jare kerk toe gegaan, maar ek het nie eintlik veel van geestelike volwassenheid geweet nie. Ek het God met my hele hart liefgehad, maar ek het nie verander nie – ek was steeds so krities, veroordelend en opstandig soos altyd. Al het ek geweet my lewe behoort beter te word, was ek nog steeds ongelukkig omdat ek al dieselfde probleme moes hanteer.
Ek glo dit is een van Satan se grootste strategieë. As hy nie mense daarvan kan weerhou om die Evangelie te hoor en Christus te aanvaar nie, sal hy alles in sy vermoë doen om seker te maak dat hulle nooit geestelik groei om die vrede en vreugde te kan ervaar wat aan hulle in die Bybel belowe is nie.
Wanneer ons wedergebore word, kom die Heilige Gees in ons harte woon – God plant ‘n saad van alles wat Hy is in ons gees en gee ons alles wat ons nodig het om ‘n wonderlike lewe te hê.
Galasiërs 5:22-23 NLV sê byvoorbeeld, ‘’ Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing …’’
Weet jy al hierdie dinge bestaan reeds aan die binnekant van jou? Jy mag dalk wonder, as dit die geval is, hoekom ervaar ek dan niks daarvan in my lewe nie?
Wanneer dit by die volwassenheidsproses kom, het ons ‘n rol om te speel. Ons deel is om met God saam te werk om Sy karakter in ons lewens te kweek en te ontwikkel sodat ons kan groei en meer soos Hy kan word. Hoe doen ons dit?
Dit begin alles deur gereelde tyd in God se Woord deur te bring. Hebreërs 4:12 (NLV sê: ‘’ Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard wat twee skerp kante het. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop.’’
Wanneer ons tyd in God se Woord spandeer, spandeer ons tyd saam met God. Sy Woord verander ons – dit verander hoe ons dink en hoe ons optree. Dit verander hoe ons God, onsself en die wêreld om ons sien.
Romeine 12:2 is ‘n goeie skrif wat vir ons wys hoe ons geestelik groei: ‘’ Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.’’
God het ‘n ” goeie, aanvaarbare, volmaakte” plan vir ons lewens, maar ons moet ons gedagtes vernuwe met Sy Woord voordat ons dit kan ervaar.
Dit is belangrik om te onthou dat om geestelik te groei ‘n proses is. Toe ek die eerste keer God se Woord begin lees en bestudeer het, het ek dadelik dinge gesien wat ek moes verander. Vir ‘n rukkie het ek skuldig en veroordeel gevoel dat ek nie ”voldoen aan die vereistes” nie.
God het my egter gehelp om te verstaan dat Hy nooit hierdie dinge vir ons wys om ons te veroordeel en skuldig te laat voel nie. Hy oortuig ons van ons gedrag om ons te help groei en uit te styg.
Ek was byvoorbeeld uiters rebels in die vroeë jare van my huwelik. Omdat my pa my seksueel misbruik het tydens my grootgewordjare, het ek ‘n wantroue in mans ontwikkel. Ek het belowe dat geen man my ooit weer sal rondstoot nie.
Terwyl ek God se Woord bestudeer het, het ek gesien dat my gedrag teenoor my man, Dave, verkeerd was. Die Here het my gevra om in liefde met Dave te wandel in my spraak, gesindheid en optrede. Dit was makliker gesê as gedaan. God gee ons altyd die genade om te doen wat Hy van ons vra om te doen. Hy verwag nie dat ons dit alles op ons eie moet doen nie.
2 Korintiërs 3:18 sê, ‘’ Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ’n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.’’
Dit beteken die Here verander ons bietjie vir bietjie op ‘n slag. Niemand van ons sal ooit perfek wees totdat ons in die hemel kom nie, en dit is goed. Solank ons hier op hierdie aarde is, begeer God dat ons voortdurend meer oor Hom leer en in ons geloof sal groei.
Soos ons dit doen – soos ons aanhou om geestelik te groei – sal ons die wonderlike vrede, vreugde en vervulling ervaar wat net God ons kan gee. En ons sal die wêreld wys hoe God werklik is.