ToeJesus aan die kruis vir ons gesterf het, het iets gebeur wat ek ‘’die hemelse ruil’’ noem. Hy het ons sondes en alles wat ons nie is nie weggeneem, ons reggemaak met Hom en toegang tot alles gegee wat Hy is.
God wil hê jy moet selfversekerd, vrymoedig, vreesloos en vry wees. Hy wil hê jy moet gesond en heel wees – ten volle in staat om jou bestemming na te streef. Hy verlang dat jy goed moet voel oor jouself en jou verhouding met Hom.
Kyk saam met my na Efesiërs 3:17 (NLV). Dit sê Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees.
God wil hê dat jou sekuriteit in Hom moet wees. Hy wil hê jy moet gewortel en geanker wees in Sy groot liefde vir jou. Wanneer jy afhanklik is van enigiets of enigiemand anders om jou waarde en wat jy werd is te gee, stel jy jou oop vir probleme.
Kom ons doen ‘n veiligheidskontrole. Neem ‘n paar oomblikke om die volgende paar vrae te beantwoord:
Hang jou waarde en sekuriteit af van jou sosiale status of hoeveel geld jy maak?
Word jou selfbeeld beïnvloed deur hoe jy lyk of die klere wat jy dra?
Hang jou gevoel van betekenis af van die goedkeuring van ander?
Is jou waarde en identiteit gebaseer op getroud wees of kinders hê?
Ons kan ons sekuriteit op baie dinge plaas. God wil egter nie hê dat ons ons vertroue en sekuriteit in enigiets behalwe Jesus Christus moet stel nie.
Ek hou van Psalm 62:6 wat sê Hy is ons ‘’Rots’’. Alles anders in die wêreld kan verander of ons in die steek laat, maar Jesus sal nooit verander of ons in die steek laat nie!
Wat Hou Jou Vas?
Ek was uiters onseker tydens die vroeër jare van my bediening. Ek was nie gewortel en geanker in God se liefde nie. Gevolglik het ek, wanneer ek die Woord bedien het tydens ‘n konferensie, my sukses gemeet op grond van die hoeveelheid komplimente wat ek na die diens ontvang het.
Wel, hier is die probleem: wanneer ek baie komplimente ontvang het, het ek goed gevoel oor myself en baie gelukkig huis toe gegaan. As ek nie baie komplimente ontvang het nie, was ek ongelukkig en het ek die hele nag my gekwel en gewonder wat verkeerd was met my.
Goddank het Hy my gehelp om my vertroue van Hom te ontvang en nie van ander mense nie. Hy het my toegelaat om te sien dat solank ek afhanklik is van ander mense se goedkeuring om goed te voel oor myself, sal ek altyd ongelukkig wees en geen vastigheid onder my voete hê nie.
Is jy afhanklik van iets of iemand se goedkeuring? Hang jou persoonlike welstand af van wat ander sê of doen? Wanneer jy onseker voel, soek jy iemand om jou te kom help om weer seker oor jouself te voel?
Terwyl dit wonderlik is om liefde en aanmoediging van ander te ontvang, wil God nie hê dat ons waarde van ander afhanklik moet wees nie. Indien wel, plaas ons onsself in die posisie om beheer en gemanipuleer te word. Ons wil ander behaag en is dan bereid om enigiets te doen om die goedkeuring te ontvang wat ons soek. Ons raak meer bekommerd oor wat mense wil hê ons moet moet doen as wat God wil hê ons moet doen.
Onthou altyd: jy kan nie beheer oor wat almal dink en doen nie. Sommige mense gaan nie gelukkig wees ongeag wat jy doen nie en jy kan nie toelaat dat hul besluit om ongelukkig te wees jou vreugde steel nie.
Wanneer ons sekuriteit op God se liefde en goedkeuring gebaseer is, maak dit ons vry om onsself te wees en laat ons toe om die leiding van die Heilige Gees te volg in plaas daarvan om deur ander mense voorgeskryf te word.
Voel jy dit verg baie van jou om jou geliefd en aanvaarbaar vir ander te maak? Indien wel, neem ‘n paar oomblikke en lees Efesiërs 1:4-5 (NLV):
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.
In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.
Dink net daaraan! Voordat God ooit die wêreld geskep het, het Hy jou geken en jou gekies om Syne te wees. Dis nie asof Hy geen ander keuses gehad het nie. Hy het rondgekyk en met opset gesê, ‘’Ek wil daardie een hê!’’
God het jou onvoorwaardelik lief. Elke enkele dag van jou lewe sê Hy steeds, ‘’Ek kies jou.’’
Daar Is Geen Vergelyking Nie
Ek was vroeër vreeslik onseker. As ek nie probeer het om mense te kry om soos ek te wees nie, het ek sleg gevoel oor myself en al my tyd daarop spandeer om soos hulle te wees!
As gevolg van hierdie onsekerheid, het ek jare lank gesukkel om heeltyd te vergelyk. Wanneer ons nie veilig is in ons eie waarde as individue nie, sal ons heeltyd kompeteer met ons vriende in plaas daarvan om hulle lief te hê.
Ek het ‘n sterk, leisels-in-hande-neem en beslissende persoonlikheid – dis eintlik ‘n gawe wat God my gegee het om te help om Sy roeping op my lewe te vervul. Tog het ek vir jare myself persoonlik gehaat. Ek het myself gedurig met my pastoor se vrou vergelyk wie so sag, goed en gaaf teenoor almal was. Hoekom kon ek nie meer soos sy wees nie?
Ek het myself ook met my buurvrou vergelyk, ‘n wonderlike tuisteskepper wat haar eie groente in haar agterplaas gekweek het en al haar gesin se geklere gemaak het. Ek het gedink ek moet dit ook doen.
Dave en ek lag steeds oor die kortbroek wat ek vir hom gemaak het – die sakke was langer as die kortbroek self! Nodeloos om te sê hy het dit nooit gedra nie.
Die slotsom is hoe meer ek daarop gefokus het om myself met ander mense te vergelyk, hoe ongelukkiger het ek geword!
God het my nie geskep om presies soos hulle te wees nie – Hy het my geskep om soos ek te wees. Toe ek uiteindelik geleer het om myself lief te hê en te waardeer soos God dit doen, het dit alles verander.
Ek moet steeds verander. Destyds kon ek so aggressief, nors en en kwasterig wees. Ek het desperaat God se hulp nodig gehad om die Vrug van die Gees in my lewe te ontwikkel – veral eienskappe soos vriendelikheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid.
God wou egter hê dat ek die beste weergawe van my word, nie iemand anders nie. Hy wil hê ek moet die dinge wat my anders maak aanvaar en gemaklik raak om net myself te wees.
Is dit nie lekker om tussen mense te wees wat geborge en gemaklik is met hulself nie? Mense wat nie altyd gekomplimenteer hoef te word dat alles goed is nie.
Wanneer ons geborge voel in Christus – wanneer ons ons waarde in Hom verstaan, gee dit ons vertroue om onsself te wees. Ons is uiteindelik lief vir onsself wat dit makliker maak vir ander om ons ook lief te hê. Dit is belangrik om jouself te sien soos Hy jou sien. Ek moedig jou aan om nie te veel tyd te spandeer om op jou foute en swakheid te fokus en jouself met ander te vergelyk nie. Spandeer eerder tyd in God se Woord en laat Hom toe om vir jou te wys hoe spesiaal jy werklik is. As jy begin fokus op wat God van jou dink, sal jy soveel gelukkiger wees en jy sal leer om werklik lief te wees vir die persoon wat Hy jou geskep het om te wees.