Alledaagse Antwoorde

Drie Sleutels tot Geluk

Ek glo almal het ‘n begeerte om gelukkig te wees. Trouens, baie van wat ons doen word deur daardie begeerte gemotiveer, maar tog is daar soveel mense wat nie gelukkig is met hul lewens nie omdat hulle daarna streef om geluk op die verkeerde manier te kry.

Deur God se Woord te bestudeer, het ek verskeie beginsels ontdek waarvolgens ons moet lewe om gelukkig te wees of ons vlak van vreugde te verhoog.

Dit is Jou Keuse

Die waarheid is dat jy nooit werklik gelukkig sal wees as jy nie ‘n besluit neem om gelukkig te wees nie, maak nie saak wat jou omstandighede mag wees nie. Want ware goddelike blydskap is nie gebaseer op wat rondom ons gebeur nie.

Een definisie wat ek gelees het, beskryf geluk as die produk van die verwagting dat iets goeds met jou sal gebeur. Ek hou daarvan, want dit beteken dat as selfs iets goeds nie nou met my gebeur nie, ek hoop kan hê en verwag dat iets goed sal gebeur. Ons hoef nie te wag vir ons omstandighede om te bepaal of ons gelukkig moet wees of nie.
Ek besef ons kan nie altyd ons omstandighede of wat met ons gebeur beheer nie, maar ons kan ons gesindheid kies. Niemand kan ons hoop in Christus wegneem as ons dit nie toelaat nie. Die sleutel hiervoor is om te glo wat God se Woord oor ons sê, veral oor wie ons is as Sy skepping en deur die verlossing wat ons in Jesus het (Ps 139:13-14; 2 Kor 5:17-21; en Ef 1 is net ‘n paar wonderlike skrifture om oor hierdie onderwerp te bestudeer.)

Leef om te Gee

Nog ‘n Bybelse beginsel om ons geluk te waarborg, word gevind in Matteus 16:24 (NLV): ‘’Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom.’’

Die Skrif sê dat as jy gelukkig wil wees, jy moet leer om jou lewe prys te gee, of ”lewe om te gee.” Dit is nie maklik in die begin nie, want ons is van nature selfsugtige mense, gewoond daaraan om eers aan onsself te dink. Maar om werklik te lewe, moet jy eers jou lewe aflê. Ek praat nie van fisiese dood nie, maar om gewillig te wees om die hele tyd prys te gee wat jy wil hê om ‘n seën vir ander te wees.
Ek weet hoe dit is, want ek het vroeër gedink ek is die middelpunt van my heelal en ek was ellendig! Maar toe ek die waarheid leer oor wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het ons moet onsself verloën, ons belange uit die oog verloor, van onsself vergeet en ons kruis opneem om Hom te volg, was dit lewensveranderend.

Om jou lewe af te lê beteken nie dat jy nie vir jouself moet sorg nie of dat jy nooit iets kan doen wat jy wil doen nie; dit beteken net jy het nie jouself heeltyd in jou gedagtes nie. Om ons kruis op te neem om Jesus te volg, gaan alles daaroor om onsself en ons eie belange uit die oog te verloor sodat ons kan sê, ‘’ Hier is ek God. Ek gee my lewe vir U en ek wil hê U moet my gebruik op enige manier wat U deur my en my lewe wil werk.”

Behaag God

Ons moet ook verstaan as ons ander mense ons lewens laat bestuur, sal ons nie gelukkig wees nie. God het jou geskep as ‘n unieke individu met ‘n spesiale plan en doel in hierdie wêreld. Jy moet wees wie Hy jou geskep het om te wees – nie wat ander wil hê jy moet wees nie – om jou lot te vervul.

Om jouself te wees, gaan alles daaroor om jou hart te volg en die leiding van die Heilige Gees in jou alledaagse lewe. Maar baie keer vind ons dat ons doen wat ander sê ons veronderstel is om te doen en ons bekommer ons oor wat hulle dink of wat hulle sal sê.

Die apostel Paulus het dit verstaan. In Gal 1:10 (NLV) sê hy, ‘’ Hoe klink dit vir julle? Wil ek in mense se goeie boekies kom? Of wil ek God tevrede stel? Probeer ek mense gelukkig maak? As ek nog steeds mense gelukkig wil maak, is ek nie ’n dienskneg van Christus nie.’’

Weier om toe te gee aan ‘n vrees vir verwerping en om God se roeping oor jou lewe op te gee. Onthou dat God jou liefhet en altyd jou beste belange op die hart dra en wat Hy jou ook al wys wat om te doen, dit is vir jou eie beswil. Om aan Hom gehoorsaam te wees, vereis soms dat ons dinge doen waarvoor ons nie lus is nie of wat moeilik is om te doen. As ons Hom vertrou, sal ons vind dat om dit op Sy manier te doen, deur Sy genade, ons lei na die gelukkigste lewe wat ons ooit kan hê.

 

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon