‘Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie.’ – Eksodus 20:3
Die beste manier om vas te stel of God die eerste plek in jou lewe beklee, is om tot stilstand te kom en jouself ’n paar eenvoudige vrae te vra: Waaroor dink ek die meeste? Waaroor bid en praat ek die meeste? Wat doen ek met my tyd?
Vra die Heilige Gees om jou te wys waar jou prioriteite nie reg is nie. Laat dan sy oortuiging toe om jou te motiveer om ’n dieper verhouding met God na te streef. Dit is God, deur die krag van die Heilige Gees, wat jou die vermoë sal gee om jou lewenstyl aan te pas en in ooreenstemming te bring met die Woord (sien 1 Tessalonisense 5:23).
As jy dit waarlik wil hê, sal Hy jou in staat stel om God eerste te stel in jou gedagtes, gesprekke en optrede. Jy sal dalk ’n paar veranderings in jou skedule moet aanbring, maar dit sal veranderings wees wat goeie resultate oplewer.
Kraggedagte
God is nommer een in my lewe.