‘’Hierdie vooruitsig is soos ’n betroubare en stewige anker – ’n anker wat onbeweeglik vasgemaak is in die Allerheiligste van die hemelse heiligdom, net agter die binneste gordyn.’’ —Hebreërs 6:19 NLV
Almal van ons gaan deur moeilike tye in ons lewens, en soos ‘n skip in ‘n storm, het ons hulp nodig om bestendig te bly. ‘n Skip het ‘n anker om dit stabiel te hou en die Bybel sê dat hoop die anker vir ons siel is.
As ek en jy ons hoop op God en Sy Woord baseer, voel ons miskien die wind en die golwe, maar op die ou end sal ons nie beweeg word nie.
Tydens ‘n storm gee hoop ons die vermoë om na dinge te kyk soos dit is en steeds vol vertroue te wees dat iets beter gaan kom. Dit maak dat hoop vir jou en my ‘n baie kragtige en belangrike eienskap het – veral in moeilike tye. Ek glo dat dit die fondament is waarop ons geloof moet voortbou.
Niemand – selfs nie eens God nie – kan belowe dat ons nooit teleurstelling of moeilikheid sal hoef te hanteer nie. Maar wat belangrik is, is dat ons nooit moet ophou hoop nie. Deur ‘n positiewe houding te handhaaf en vas te hou aan die hoop wat ons in Christus het, kan ons die wonderwerkende krag van God sien.
Gebedsbeginpunt
Vader, ek hoop op U. My vertroue in U en die verwagting van die groot dinge wat U in my lewe gaan doen, is my anker in moeilike tye.