
‘En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees . . .’ – Johannes 14:16
God weet klaarblyklik hoe belangrik aanmoediging is, want Hy het vir ons ’n Goddelike Trooster en Aanmoediger gegee toe Hy die Heilige Gees gestuur het. Die Heilige Gees is die Parakletos, die Griekse woord vir ‘die een wat langs ons stap, hulp en aanmoediging gee, ons opbou, geestelik verhef en troos’.
God troos ons in tye van nood sodat ons ander kan troos wanneer hulle troos nodig het. God verwag dat ons die dinge wat Hy vir ons gegee het, aan ander moet weggee. Dit is ’n geestelike wet en dit is ’n manier om te verseker dat wat ons ook al nodig het, voortdurend in ons lewe sal invloei. Hoe meer ons ander aanmoedig, hoe meer bemoedig sal ons self wees (sien Lukas 6:38). Neem ’n besluit om elkeen met wie jy vandag in aanraking kom, te bemoedig. Wanneer ons leef om ’n seën te wees, sal ons in ruil geseën word.
Kraggedagte
Die Heilige Gees is altyd beskikbaar om my te troos en te bemoedig.