“As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.” —1 Johannes 1:9 NLV
Ons het vergifnis elke liewe dag nodig. Die Heilige Gees plaas ‘n alarm in ons harte om sonde te herken en Hy gee ons die krag van die bloed van Jesus om ons aanhoudend skoon te maak van sonde en ons in ons geregtigheidsstand met God te hou.
Maar as ons oorweldig is met veroordeling, kan ons verseker wees dit is nié van God af nie. Hy het Jesus gestuur om vir ons te sterf – om die prys namens ons te betaal vir ons sonde. Jesus het ons sonde en veroordeling aan die kruis gedra (sien Jesaja 53).
Toe God die yuk van sonde gebreek het oor ons, het Hy die skuldgevoelens ook weggeneem. Hy is betroubaar en regverdig om al ons sonde te vergewe en ons vir altyd skoon te maak van alles wat verkeerd is (sien 1 Johannes 1:9).
Die duiwel weet dat veroordeling en skande ons weerhou daarvan om God met vrymoedigheid te benader in gebed, sodat ons vergifnis kan ontvang en intieme gemeenskap met Hom kan ervaar.
Om sleg te voel oor onsself of om te glo dat God vir ons kwaad is, verwyder ons net van Sy teenwoordigheid. Hy sal jou nooit los of verlaat nie, so moenie wegtrek van Hom as gevolg van veroordeling nie. Ontvang Sy vergifnis en stap saam met Hom.
Gebedsbeginpunt
God, dankie dat U vir my wys dat veroordeling nie van U af is nie. Vandag ontvang ek U vergifnis. U het my skoongemaak van sonde en nou kan ek in geregtigheid met U staan.