
Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig . . . Dan voeg Hy daarby: ‘Ek sal aan hulle sondes en hulle oortredings nooit weer dink nie.’ – Hebreërs 10:14, 17
God se vergifnis is vir ewig – dit duur vir die res van ons lewe; dit is vir elke dag. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy nie net alles vergewe wat ons in ons verlede gedoen het nie. Hy het Hom ook daartoe verbind om enige sonde wat ons in die toekoms doen, te vergewe en te vergeet.
Hy ken ons gedagtes nog voordat ons dit dink; Hy ken ons woorde nog voordat dit uit ons mond kom; Hy weet van elke verkeerde besluit wat ons ooit gaan neem. Al wat ons moet doen, is om ons verhouding met Hom te bewaar. Wat Hy uiteindelik van ons wil hê, is nie foutlose optrede, foutlose gedrag of foutlose gesindheid nie, maar ’n hart wat Hom waarlik liefhet.
Kraggedagte
Toe Jesus aan die kruis vir my gesterf het, het Hy elke sonde wat ek ooit gaan doen daarby ingesluit.