Alledaagse Antwoorde

Om die Vrees vir Verwerping te Oorkom

Ek glo die vrees om deur ander verwerp te word, is een van die grootste hindernisse vir mense om uit te stap en alles wat God in hul harte plaas om te doen, te gehoorsaam.

God het ‘n goeie plan vir jou lewe en Hy wil nie hê jy moet gekwel word oor die vrees vir ander of dat dit jou terughou van jou roeping nie. Sy wil is dat jy vorentoe moet beweeg, vol vertroue in Sy liefde en Hom vertrou om vir jou te sorg.

Ons het ook ‘n vyand, Satan, wat alles in sy vermoë sal doen om ons te keer om in God se goeie plan te wandel. Enige tyd wat ons vordering maak en vorentoe beweeg in God se wil vir ons lewens,sal die duiwel met vrees teen ons kom om ons terug te dryf.

Dit is een van die vyand se grootste taktieke – om vrees te bring en te verhoed dat ons vordering maak. Hy wil hê ons moet ons omstandighede vrees en wat ander mense sal dink. Hy wil hê ons moet fokus op die ‘’wat as’’:

Wat as ek ‘n gek van myself maak? Wat as ander dit afkeur? Wat as my reputasie skade ly? Ensovoorts!

Almal van ons kom van tyd tot tyd in ons lewens by hierdie kruispaaie – plekke waar ons vorentoe moet beweeg ten spyte van ons vrese oor wat ander dalk dink. As ons God egter stap vir stap sal vertrou kan ons leer om ons vrese in die oë te kyk en nuwe vlakke van vryheid te geniet.

Wanneer vrees toeslaan, is dit ons eerste neiging om weg te hardloop na waar ons was. Maar dit is wanneer God sê. ‘’Moenie nou ophou nie! Hou aan vorentoe beweeg!’’

Oorkom die Vrees vir die Mens

Jer 29:11 sê, ‘’ Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. (NLV)

God het ‘n groot toekoms beplan vir elkeen van ons – dit is ‘n toekoms vol hoop en goeie dinge. Ongelukkig leef baie gelowiges in Christus nie hul roeping uit nie,omdat hul bang is wat ander mense sal dink – hulle is bang om verwerp te word.

Die vrees vir die mens is ‘n algemene probleem wat veroorsaak dat ons terugdeins en ons bekommer oor dinge soos: Wat gaan hulle van my sê? Wat as hulle nie van my hou nie? Sal hulle my verwerp as ek dit nie op hulle manier doen nie?

Almal sukkel met onsekerheid en vrees vir verwerping in ‘n sekere graad. Daar is beslis niks fout daarmee om te wil hê mense moet van ons hou nie, maar God wil nie hê dat ons heeltyd ander mense moet tevrede stel sodat hulle van ons kan hou nie. Hy wil nie hê dat ons vrees vir verwerping, oordeel en kritiek ons keuses beheer nie.

As ons vry van vrees gaan wees en regtig alles wat God vir ons lewens het, najaag, moet ons ‘n besluit neem dat ons nie deur die vrees van mense beheer sal word nie.

Dit was vir my ‘n groot probleem in die beginjare van my bediening.

Ek het geweet God roep my om Sy Woord te onderrig, maar dit het van my vereis om ‘n paar dapper (en skrikwekkende) keuses te maak om te beweeg in alles wat Hy vir my gehad het.

Om mee te begin, ek het vriende gehad wat nie gedink het dat ek die regte persoonlikheid gehad het om ‘n leraar te wees nie en hulle het dit vir my gesê. In plaas daarvan om opgewonde te wees vir my en die visie wat God in my hart geplaas het, het hulle probeer om my te ontmoedig!

Ek het ook baie mense in my kerk ontstel omdat hulle nie daaraan geglo het dat vroue onderrig moet gee nie. Ek het selfs familielede gehad wat nie die roeping van God op my lewe verstaan het nie en my verwerp het as gevolg daarvan.

Ek is uiteindelik gevra om my kerk te verlaat. Ek het ook ‘n paar vriende verloor en sommige het net nie verstaan nie.

Dit was beslis nie maklik nie – niemand hou daarvan om verwerp te voel nie. Ek was so bly God het my die moed gegee om nie te vrees wat ander van my dink nie en die dapper stap te neem.

Dit is nou vir my skrikwekkend om te dink ek kon God se plan misgeloop het. As ek gekies het om van daardie situasies te vlug – as ek ingegee het aan die vrees vir mense – sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie.

Leef Moedig

God het ‘n groot, vol lewe vir ons elkeen beplan en Hy wil ons deur Sy Heilige Gees lei in Sy volmaakte wil. As ons regtig hierdie lewe wil hê – as ons werklik dit alles waarvoor Jesus gesterf het wil geniet – gaan dit van ons vereis om uit ons gemaksones te kom en in geloof te wandel… selfs in die lig van potensiële verwerping.

God wil hê dat ons moedig moet leef met die wete dat ons alles kan doen wat ons moet doen deur Christus wat ons krag gee (sien Filippense 4:13).

Ek praat nie daarvan om dwase keuses te maak en dinge te doen wat gevaarlik is net omdat jy nie wil hê dat vrees jou moet terughou nie. Om moedig te leef beteken dat jy dapper kan wees om risiko’s te neem in plaas daarvan om net te doen wat veilig is. Dit beteken dat jy nie toelaat dat vrees wat ander mense sê of doen, jou daarvan weerhou om God te gehoorsaam en alles te word wat Hy jou geskep het om te wees nie.

Om moedig te lewe laat ons toe om die leiding van die Heilige Gees te volg en te doen wat God in ons harte sit om te doen, eerder as om te skik vir ‘n gemiddelde lewe.

In Jeremia hoofstuk 1 het die Here Jeremia beveel om ‘n boodskap na Sy volk te bring – een wat nie te goed ontvang sal word nie. Kyk wat sê God aan Jeremia: …“Staan op en trek jou aan, en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders laat Ek jou dalk verleë voor hulle staan! … (sien Jeremia 1:17 NLV).

Ek hou hiervan! Die Here sê aan hom, ‘’Moenie dat die vrees vir mense jou stop om te doen wat ek jou beveel het om te doen nie!’’
As jy in die verlede verwerping ervaar het, is die maklike ding om aan die veilige kant te bly. Meeste mense het op ‘n stadium gedink, ek sit myself nie weer deur dit nie!

Ons dink dalk ons bly aan die veilige kant, maar ons bou net mure om ons en skakel onsself af. God wil hê ons moet vry wees – vry om ons drome na te streef en te doen wat Hy in ons harte plaas om te doen. Maar as ons werklik vry gaan wees, kan ons nie wandel in die vrees vir wat ander mense van ons sal dink nie.

Soos ek genoem het, het ek geweldige verwerping ervaar toe ek die eerste keer begin uitstap het om God se roeping op my lewe te volg. Vir ‘n ruk was dit baie sleg en teleurstellend. Ek sidder egter om dink hoe anders dinge sou uitgedraai het as ek besluit het om tou op te gooi – as ek toegelaat het dat die vrees vir wat ander dink my keer om voort te gaan.

Glo dit of nie, ek kyk vandag terug en voel dat daardie mense my ‘n guns bewys het. Hulle het my genoop om aan God vas te hou en Hom te soek vir krag en vertroosting soos nog nooit tevore nie. Die situasie het my gehelp om die Here te vertrou en ‘n beter begrip van Sy liefde vir my te kry.


Jy sien, ons moed – ons selfvertroue om uit te stap en God te vertrou – begin alles met die openbaring van God se liefde. Wanneer ons weet dat God aan ons kant is en ons onvoorwaardelik liefhet, gee dit ons die krag en moed om dinge te doen wat ons nooit op ons eie kan doen nie.


1 Joh 4:18 sê, Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie; volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volmaakte liefde bemeester nie … (NLV).

Wanneer ons God se liefde vir ons verstaan, bou dit ons geloof en gee ons die selfvertroue om voort te gaan, selfs in die aangesig van vrees.
Jy het wat nodig is om vrees trompop te konfronteer. Dalk het jy in die verlede teruggedeins in vrees, sodat die vrees vir ander jou verhinder het om te doen wat God in jou hart geplaas het om te doen. Indien wel, moenie moedeloos wees nie! Ons was almal een of ander tyd daar.

Besluit eerder om uit die verlede te leer en stap met vrymoedigheid jou toekoms binne. Terwyl jy dit doen, kan jy gerus wees in die wete dat God elke tree op die pad met jou sal wees.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon