Maar Jesus het Hom omgedraai en vir Petrus gesê:
‘Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie.’ – Matteus 16:23
Jy besef dalk nie hoe sterk jy kan wees as jy eers ’n besluit geneem het nie. Dit is waar op ’n negatiewe en positiewe wyse. As jy jou gedagtes instel op die dinge wat God wil hê, kan die duiwel jou nie keer nie, maar as jou gedagtes bly draai om die dinge wat mense wil hê en jou gedagtes ’n verkeerde koers bly inslaan, sal dit vir jou moeilik wees om God se hulp te ontvang.
As jy vas besluit het, sal niks jou van besluit laat verander nie. Neem die besluit dat jy gaan leef tot eer en verheerliking van God en dat jy nie van plan sal verander oor jou besluit nie.
Kraggedagte
My gedagtes is ingestel op God.