‘’dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.’’ —Johannes 14:17 NLV
Daar is sekere boodskappe in die Bybel wat op alles van toepassing is – selfbeheersing is een van hulle. Dit maak nie saak watter soort probleem ons in ons lewens het nie, selfbeheersing is altyd nodig. As ons onsself nie dissiplineer nie, sal ons emosies ons regeer en sal ons lewens ellendig wees.
Om selfbeheersing uit te oefen beteken om in matigheid te leef. Alles in die lewe vereis kwaliteitsbesluite en dissipline om dit te laat gebeur. So baie van ons probleme is as gevolg van ‘n gebrek aan dissipline. Finansiële skuld gebeur as ons nie ons bestedingsgewoontes kan beheer nie, slegte gesondheid volg as ons nie ons eetgewoontes kan beheer nie, ens.
As jy in ‘n situasie is wat oorweldigend lyk om daaruit te kom, sal baie dissipline en selfbeheersing nodig wees. Daarvoor het God ons die Heilige Gees gegee om in ons te woon en ons te help.
As jy wedergebore is, het jy die Gees van Christus in jou – met die vrug van selfbeheersing. Jy het dit miskien nie ontwikkel nie, maar jy weet dit is daar. Jy het wat dit verg. Neem ‘n besluit om selfbeheersing te ontwikkel deur jou verhouding met die Heilige Gees.
Gebedsbeginpunt
Here, dankie dat U my die vrug van dissipline en selfbeheersing gegee het. Deur die krag van die Gees in my, sal ek doen wat U vir my sê om te doen en nie deur my gevoelens beheer word nie.