Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees. – Psalm 34:2
Sommige mense is baie dankbaar oor klein dingetjies, terwyl ander nooit tevrede is nie, maak nie saak hoeveel vir hulle gedoen word nie. Kies om ’n dankbare persoon te wees – een vol dankbaarheid teenoor God, maar ook teenoor mense. Wanneer iemand iets gaafs vir jou doen, maak seker daardie persoon weet hoeveel jy dit waardeer.
Dink elke dag doelbewus aan die dinge waarvoor jy moet dankbaar wees. Praat met die Here daaroor in gebed, en terwyl jy dit doen, sal jy vind dat jou hart vol word van sy vrede, liefde en vreugde. Ek glo dankbare mense is gelukkige mense. Gaan dus voort en laat jou vreugde toeneem deur vandag baie dankbaar te wees.
Kraggedagte
Ek is ’n dankbare mens en ek prys God voortdurend met my lippe.