Alledaagse Antwoorde

Ontdek Jesus se Geheim vir Suksesvolle Verhoudings

deur Joyce Meyer

Ontdek Jesus se Geheim vir Suksesvolle Verhoudings

Ek het dit vir jare alles verkeerd gedoen. Ek was ellendig! Ek praat van my houding en selfsugtige gedagtes wat gefokus was op die gedagte ”Wat van my?!”Dit het gewys in my gedrag: As ek nie heeltyd my sin gekry het nie, het ek probeer om ander mense deur my humeur te beheer.

Ek het eerlikwaar nie geweet wat my probleem was nie totdat God eendag tot my hart gepraat het en gesê het: ”Jy is selfsugtig. Jy het my Woord bestudeer oor geestelike oorlogvoering, voorspoed, genesing, mag en gesag hê as ‘n gelowige in Christus … maar hoeveel tyd het jy al oor My liefde gestudeer?’’

Dit was die begin om te ontdek dat ek nooit gelukkig sou wees en vrede sou hê totdat ek geleer het om lief te hê soos Jesus liefhet nie.
Een van die eerste boodskappe wat God op my hart geplaas het om te onderrig, was getiteld ”Sê vir hulle Ek is lief vir hulle.”Ek wou dit eers nie doen nie. Ek het gedink, mense weet reeds dat U hulle liefhet, Here. Ek wil ‘n baie kragtige boodskap leer…iets wat hulle nog nie voorheen gehoor het nie. Maar God het vir my gewys dat as mense regtig weet dat Hy hulle liefhet en wat dit beteken, dan sal hulle baie anders lewe as wat hulle doen.

Wanneer ons God se liefde ken en ervaar, kan ons dit met ander deel. Stel jou voor hoe die wêreld sou wees as elkeen wat hulself ‘n Christen noem, mekaar werklik met Sy liefde sou liefhê. Dink daaroor. Daar sou geen skinderpraatjies, geen oordeel of kritiek wees nie, geen eksklusiewe houdings wat ander laat voel dat hulle verwerp is nie en daar sal veel meer in mense se behoeftes voorsien word as wat hulle het.

Gelukkig het Jesus vir ons baie wesenlike, praktiese voorbeelde gegee van hoe ons kan liefhê soos God ons liefhet.

Om Ander Lief te hê tot die ”Hoogste Graad”

In Johannes 13:1 sê Jesus, ‘’ Hy het hulle enduit liefgehad’’ (NLV). In die volgende verse demonstreer Hy wat dit beteken om ander so lief te hê. Dit het die dissipels geskok.

In daardie dae was daar bediendes wat mense se voete gewas het as hulle kom kuier het. Dit is waarskynlik dat hulle as die mees geringste bediendes in die huishouding beskou is. En Jesus, die Seun van God self, het van die ete opgestaan, die diensknegte se handdoek geneem en die dissipels se voete gewas. Sy boodskap aan hulle was om mekaar lief te hê deur ‘n dienskneg te wees, want God wil hê dat Sy liefde deur ons moet vloei en ander mense se lewens aanraak.

Liefde is nie net ‘n gevoel of ‘n teorie nie; dit is ‘n besluit wat ons neem en ‘n aksie wat ons neem. Dit is so belangrik vir ons om te leer wat die Bybel oor God se liefde sê, sodat ons kan leer om soos Jesus lief te hê. Ons moet bid dat God ons sal help om te leer hoe om in liefde te wandel – om ‘n dienskneg te wees wat ”voete was” om ander te help.

Was Ander Se Voete

Matteus 7:12 (NLV) sê, ‘’ “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen …’’ Dit is van uiterste belang, want as ons betekenisvolle verhoudings met ander wil hê, dan moet ons in hul lewens belê deur hulle ondersteuning te gee, hulle aan te moedig, te help om in hul behoeftes te voorsien – om hulle te dien soos ons dit kan doen.

Dit is maklik om mense te help waarvan jy hou of diegene wat jy wil beïndruk. Maar wanneer dit kom by om iets te doen vir iemand wat jy nie ken nie of iemand in wie jy nie ‘n natuurlike belangstelling het nie, kan dit ‘n ander storie wees. Soms is ons nie lus om ons gesin te dien nie. Ek weet uit persoonlike ondervinding dat mense bereid kan wees om ander by die kerk of werk te help, maar hulle is nie bereid om dieselfde dinge vir hul familie te doen nie.

Ek het geleer dat wat ek in die openbaar voor mense doen, niks regtig sal beteken as ek nie ‘n lewe lei wat God ook tuis behaag nie. Ek het gedink ek sou doodgaan van frustrasie voordat ek dit uiteindelik besef het, so ek weet dit is nie maklik nie. Ons moet besef ons is van nature selfsugtig en ons moet ‘n doelbewuste besluit neem om spesifiek aan ander te dink of ons sal baie geleenthede mis om hulle te dien.

Ek wil jou aanmoedig om Johannes 13 te lees en goed op te let wat Jesus gedoen het en wat Hy gesê het. Spandeer tyd om skrifture oor God se liefde te bestudeer en bid vir Hom om jou maniere te wys hoe jy die mense in jou lewe kan dien. Kyk hoeveel kreatiewe maniere God in jou hart kan sit om ‘’voete te was’’. Jy sal dit waarskynlik makliker en eenvoudiger vind as wat jy gedink het dit sou wees om te help om iemand se lewe beter te maak.

God wil hê ons moet sukses hê en ons lewens geniet. Maar Hy wil hê ons moet onsself neerlê, vergeet om die middelpunt van ons wêreld te wees en te begin fokus om elke dag na iemand te soek wat ons hulp nodig het. Wanneer jy dit doen, sal jy ontdek dat jy eintlik meer tevrede, vergenoeg, rustig en gelukkig is as wat jy ooit in jou lewe was!

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon