Alledaagse Antwoorde

Bly Kalm En Vol Vrede In Jou Daaglikse Lewe

deur Joyce Meyer

Bly Kalm en Vol Vrede in jou Daaglikse Lewe

Vrede is ‘n wonderlike geskenk wat God ons bied. Ek weet hoe dit is om sonder vrede te lewe – meeste van die tyd ontsteld, angstig, bang en bekommerd. Dit is ellendig! Sedertdien ek ontdek het hoe om met God se vrede te leef, sal ek alles doen wat ek moet doen om dit te hê.

Ons moet die waarde van vrede verstaan as ons dit gaan hê. Want as jy dink dit is regtig nie ‘n groot probleem om jou humeur te verloor, bekommerd te wees, gespanne te wees of heeltyd ontsteld te wees nie, sal jy nie doen wat jy moet doen om met vrede te lewe nie.

Ek dink dit is interessant dat een van die laaste dinge wat Jesus vir Sy dissipels voor Sy kruisiging gesê het, oor vrede was. Johannes 14:27 (NLV) sê, ‘’ “Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.’’

In Johannes 20:19, “Vrede vir julle!” is die eerste ding wat Jesus ná Sy opstanding vir Sy dissipels gesê het. Vers 21 sê, ‘’ “Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer …’’ Let op die woord ”weer”. Hy wou vir seker hê hulle moes besef hoe belangrik dit vir hulle was om in vrede te bly.
Neem ‘n oomblik om te dink oor hoeveel vrede jy het. Bekommer jy jou, raak jy ontsteld of voel jy dikwels gespanne? Baie mense voel so … maar dit is nie die manier waarop God wil hê ons moet lewe nie.

Baie Christene bid dat God vir hulle vrede sal gee, maar hulle moet besef dat hulle as gelowiges in Christus reeds Sy vrede het. Ons moet bid dat God ons sal help om te leer hoe om in vrede te wandel.

Filippense 4:6-7 (NLV) sê, ‘’ Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is.’’

Ons kan baie leer oor hoe om kragtige, effektiewe gebede te bid deur die Skrif te bestudeer. In plaas daarvan om vir vrede te bid, let op dat die apostel Paulus in Filippense die gelowiges aanmoedig om God in elke omstandighede te vertrou sodat hulle Sy vrede kan hê terwyl hulle deur uitdagings gaan.

As ons nie vrede het nie en ons wil dit hê, moet ons gereed wees om ‘n paar veranderinge aan te bring. Die wêreld om ons gaan waarskynlik nie verander nie, so ons moet ons benadering tot die lewe verander. Ons moet ‘n doelbewuste besluit neem om God te vertrou in elke area van ons lewens, elke dag.

Ons word gelowiges genoem, en dit is wat ons veronderstel is om te doen: Glo die Here! Wanneer ons Hom vertrou, gaan ons Sy rus binne en kan ons ons lewens geniet.

Ek onthou jare gelede toe God my gehelp het om hierdie les te leer terwyl ek Jakobus 4 bestudeer het. In verse 1-4 sien ons dit wat rusies, twis en ontevredenheid veroorsaak. Vers 2 (NLV) sê, ‘’ Julle wil dinge hê wat julle nie het nie, en pleeg dan moord om dit te kry. Julle is jaloers oor wat ander het, en as julle dit nie in die hande kan kry nie, veg en baklei julle om dit by hulle te vat. En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie.’’

Dit is basies om te sê, ”Jy wil iets hê, so jy streef daarna om dit te kry of dit op jou eie te laat gebeur, maar dit werk nie. As jy my net vra, sal ek jou help.” Dit is belangrik om hier uit te wys dat God nie net vir ons enigiets sal gee waarvoor ons vra nie. Hy is lief vir ons en wil hê wat die beste vir ons is en wanneer ons vra vir dinge wat in Sy plan en doel vir ons is, sal Hy dit vir ons gee.

Ek het vroeër gedink ek wou baie dinge hê, maar wat my uiteindelik ongelukkig gemaak het nadat ek dit reggekry het. Toe ek my wil begin prysgee en God gevra het om te doen wat Hy in my lewe wil doen, het ek vrede en tevredenheid ervaar wat ek nog nooit vantevore geken het nie.

Dit was vir my so bevrydend om nie meer my eie lewe te probeer bestuur nie en eerder daarop te fokus om God te soek en Hom te vertrou om vir my te gee wat Hy wil hê ek moet hê. Ps 37:4 (NLV) sê, ‘’ Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee.’’

Ek wil jou vandag sterk aanmoedig om doelbewus te kies om te streef na God en jouself in Hom te behaag voor enigiemand of enigiets anders in jou lewe. Hy is die Bron van liefde, vreugde en vrede. Jy kan kalmeer en vrolik wees terwyl jy in Hom lewe!

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon