Alledaagse Antwoorde

Praktiese Stappe Om Jou Selfvertroue Te Versterk

deur Joyce Meyer

Praktiese Stappe om jou Selfvertroue te Versterk

God het ‘n plan vir elke mens se lewe en Hy wil hê ons moet elke dag van ons lewe geniet. Maar ons kan dit nie doen as ons in vrees lewe en nie selfvertroue het nie. Vertroue is die oortuiging dat jy in staat is om te doen wat jy moet doen of wat jy wil doen. God gee ons vertroue, maar ons moet weet hoe om dit deur geloof te verkry.

Godgegewe vertroue is eintlik die genade van God. Ons hoor gewoonlik dat genade gedefinieer word as God se onverdiende guns of dat God iets vir jou doen wat jy nie verdien nie. Dit is egter meer as dit.

Dit was vir my lewensveranderend om te leer dat genade ook God se krag is, vryelik aan my gegee, om my in staat te stel om iets met gemak te doen wat ek nooit op my eie kon doen sonder stryd en moeite nie.

Dink daaroor. Elkeen wat Christus as hulle Verlosser aanneem, word geleer dat ons uit genade deur geloof gered is. Efesiërs 2:8 (NLV) sê, ‘’ Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God.’’

Dieselfde manier waarop ons gered word, is die manier waarop ons veronderstel is om te lewe. Met ander woorde, sodra ons wedergebore is, wil God hê dat ons alles in die lewe uit genade deur geloof moet doen.

Dit was een van die grootste openbarings van my lewe. Ek onthou hoe opwindend dit was om te besef dat God nie net daar is om ons te help wanneer ons ‘n noodgeval het nie. God wil betrokke wees by elke enkele daaglikse ding wat ons doen.

Daar is niks waarby jy betrokke is waaroor God nie omgee nie, en Hy wil hê jy moet bid en Hom vra om jou te help met elke detail van jou lewe. Hy wil nie hê jy moet in jou eie poging streef om iets te doen nie. God wil jou hegte, persoonlike, intieme vriend wees.

Ek was jare lank ‘n Christen voordat ek geleer het hoe om toegang tot God se genade – Sy krag – te kry om my alledaagse lewe te leef. Eers moes ek verstaan ​​dat sodra ek gered is, God nie van my verwag het om reg te lewe uit my eie krag nie.

Net soos ek nie verlossing kon ”verdien” deur my eie werke of moeite nie, kon ek ook nie regtig my hart of gedrag in eie krag verander nie. Jesus sê in Johannes 15:4 (NLV), ‘’ Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie.’’

Elke dag moet ons na God toe kom en vir Hom sê: ”Here, ek kan niks sonder U doen nie. Niks in die lewe gaan sonder U uitwerk nie. Buiten U is daar niks goeds in my nie. My vertroue is in U. Ek het U heeltyd nodig. Ek glo U en ek vertrou U, Here.”

Wanneer ons onsself voor God verootmoedig en Hom om hulp vra, kan ons deur geloof toegang tot Sy genade kry.

Om jou te help om dit te doen, wil ek drie dinge deel wat gewoonlik ons ​​geloof kortwiek en ons toegang tot God se krag afsny: kla, selfbejammering en trots.

  • Om te kla is ‘n negatiewe gesindheid wat ons daarvan weerhou om dankbaar te wees vir alles wat God gedoen het, wat Hy doen en wat Hy sal doen. Dit is ‘n sonde waaroor ons moet bekeer en dan vasbeslote moet wees om die Here te dank te alle tye in alle dinge. Sy genade en seëninge weeg altyd swaarder as die dinge wat ons dink verkeerd is in ons lewe.
  • Selfbejammering is bloot ‘n ”arme ek”-houding. Dit is ‘n vorm van afgodery, want dit veroorsaak dat jy op jouself fokus en dink: ”Wat van my? Ons kan nie terselfdertyd jammerlik en kragdadig wees nie, besluit liewer om alle selfbejammering prys te gee.
  • Trots neem krediet vir wat God gedoen het en steel Sy eer. Dit maak ons ​​onafhanklik van God en ons kan nie goeie vrug dra sonder Christus nie.

Voordat ek geleer het hoe om my lewe met God se genade te leef, was dit ‘n deurmekaarspul. Ek was ‘n neulerige vrou, manipulerend en beheersend. Ek was nie tevrede met die lewe nie.  God het my toe gehelp deur my oë oop te maak om te sien dat ek nie regtig kon verander totdat ek Sy Woord ernstig begin opneem het nie, en Hom te vertrou om my te verander.

Na ek ‘n doelbewuste besluit geneem het om te bid en die Woord te bestudeer in areas waarin ek swak was, het God se genade my die krag gegee wat ek nodig gehad het om die dinge wat verkeerd was te oorkom. Ek gaan vandag steeds so voort op dieselfde manier in my reis met God.

God het al die krag wat jy nodig het om enigiets te doen wat jy moet doen. Hy is lief vir jou en wil vir jou Sy krag gee om jou alledaagse lewe met vreugde te leef. Vertrou Sy wysheid en goedheid, en jy sal met Godgegewe vertroue lewe!

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon