Alledaagse Antwoorde

Die Grootste Troos Te Midde Van Die Lewe Se Storms

deur Joyce Meyer

Die Grootste Troos te Midde van die Lewe se Storms

Op een of ander tyd het ons almal ‘n terugslag beleef of ‘n aansienlike verlies verduur. Miskien is dit waar jy vandag is; miskien het jy ‘n werk verloor, ‘n verhouding, of selfs iemand of iets wat jy liefhet.

Indien wel, wil ek jou bemoedig met Matteus 5:4. Jesus sê, ‘’ Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee’’ (NLV).

Ek het vroeër gedink dit was vreemd. Hoe kan ons geseën word as ons rou? God het my egter gehelp om te verstaan dat ons tye van pyn eintlik perfekte geleenthede is om Sy bonatuurlike troos te ontvang en te ervaar.

Trouens, om ‘n probleem te hê, is een van die beste plekke om weer te begin. Hoekom? Omdat God se troos veel verder gaan as enige gewone soort troos. Hy is die enigste Een wat jou deur die pyn kan dra en jou kan help om werklik ’n beter, sterker mens te word as wat jy voorheen was.

Met God se hulp kan ons na ons pyn as ‘n geleentheid kyk. Ek glo ons kan ‘n gesindheid hê wat sê: ”Dit kan nou moeilik wees, maar ek sal nooit moed opgee nie. Ek het regtig seer, maar ek gaan weer opstaan!’’
Besluit om die Bus te Bestuur

Ek onthou ‘n gesprek wat ek gehad het met ‘n vrou wat vir my gesê het: ”Joyce, die lewe het my sopas onder die bus ingegooi.’’ Sonder om te dink, het ek geantwoord, ”My lewe was vroeër dieselfde, maar ek het besluit om die bus te bestuur.”

Ek het nie probeer om ligsinnig of onsensitief te wees vir haar swaarkry nie – ek wou haar help. Ek het verduidelik dat wanneer dinge verkeerd loop, wil die vyand hê ons moet die res van ons lewe onder die bus deurbring en jammer voel vir onsself. God se plan vir ons is om terug te hop, in die bestuurder se sitplek te klim, en dan ander seer mense wat onder die bus is te gaan oplaai.

Ek sê nie ons moet nie treur ná ’n verlies of tragedie nie, maar ons wil net nie daar vashaak nie.

Van Die Put Na Die Paleis

Kyk maar na die lewe van Josef in Genesis 37-50. As ’n jong man het Josef groot drome vir sy lewe gehad. Sy ouer broers het hom gehaat en hom in slawerny verkoop en hy is na Egipte geneem. Hy het groot guns gevind by sy heer, Potifar, en is in beheer van sy hele huishouding aangestel.

Jare later toe Josef valslik daarvan beskuldig is dat hy Potifar se vrou probeer verlei het, is hy in die tronk gegooi. Hy het steeds nie moed opgegee nie. Toe die tyd reg was, het die Here uiteindelik vir Josef ‘n geleentheid gegee om ‘n droom vir Farao uit te lê wat hom toe bevorder het tot die hoogste amptenaar in Egipte!

Josef het letterlik van die put na die paleis gegaan. Toe ‘n hongersnood die land getref het, het die Here Josef gebruik om sy familie en die hele huis van Israel te red.

Romeine 8:28 sê, ‘’ En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.’’ Wanneer ons weier om tou op te gooi, kan die grootste tragedie van ons lewe eintlik een van die grootste seëninge wees.

Van my grootste oorwinnings het gekom uit moeilike tye toe ek moes deurdruk en God vir Sy hulp en vertroosting soek. Ek is dankbaar dat ek nie tou opgegooi het gedurende daardie tye nie, want ek sou nie die voorreg hê om mense te help soos ek vandag doen nie.

Ek weet dit is nie maklik nie, maar ek wil hê jy moet sien dat jou gesindheid en reaksie op die probleme wat jy in die gesig staar die verskil vir jou en soveel ander kan maak.

Die Bron Van Alle Vertroosting

Wanneer jy seerkry, hardloop na God – die Vader van deernis en die God van ALLE vertroosting (2 Kor 1:3). Spandeer tyd in Sy Woord, praat met Hom in gebed en kies om Hom te aanbid selfs wanneer jy nie lus is daarvoor nie.

Die Here sal dikwels ander gebruik om ons te troos. Selfs daardie mense wat uiters na aan ons is, kan nie die heeltyd alles gee wat ons nodig het nie. Wanneer ons van ander verwag om vir ons te doen wat net God kan doen, is ons verwagtinge op die verkeerde plek en sal ons teleurgesteld wees. Die Bybel sê egter dat diegene wat hulle hoop op die Here stel, nooit teleurgesteld sal wees nie (Jesaja 49:23).

Psalm 34:18 sê, ‘’ Wanneer mense roep om hulp, hoor die Here …’’ Hy sien elke seer, elke onreg en elke teleurstelling. As ons Hom toelaat, sal Hy die slegte dinge wat gebeur neem en dit ten goede laat uitwerk.
Wees vasbeslote om nooit op te gee op God nie. Hy is die enigste Een wat jou pyn kan neem en dit in ‘n seën kan verander in elke storm in jou lewe.

 

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon