Alledaagse Antwoorde

Ontdek Die Persoon Wat Jy Bedoel Is Om Te Wees

deur Joyce Meyer

Ontdek die Persoon wat jy Bedoel is om te Wees

Omdat ek gedurende my kinderjare deur my pa seksueel misbruik is, het ek geglo dat ek geskend is en net ‘n tweederangse lewe kon hê. Ek was so onseker en het gedink niemand kan my regtig liefhê of aanvaar nie. Ek het geglo my waarde was gebaseer op wat ek gedoen het; die enigste keer wat ek goed gevoel het oor myself, was toe ek hard gewerk het en produktief was.

Soos ek ernstiger geword het oor my verhouding met God en Sy Woord meer ywerig begin bestudeer het, het ek ontdek dat my verlede nie hoef te bepaal hoe my toekoms sou wees nie. Om te leer oor God se liefde vir my en wie ek in Christus is, het alles verander!

Jeremia 29:11(NLV) sê, ‘’ Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.’’ Johannes 10:10 sê, “Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.’’

As jy ‘n swak selfbeeld het, sal jy nie God se planne kan vervul of jou lewe kan geniet nie. Jy kan nie met Sy vrede saamleef en jou ware waarde vir Hom ken as jy onseker is en ’n lae opinie van jouself het nie.

Om te ontdek wie ons in Christus is (2 Kor 5:17) is die sleutel om te word wie God ons geskep het om te wees en om ‘n verskil in hierdie wêreld te maak. Dit is die sleutel om werklik die waarheid te verstaan ​​dat hoe minder ons oor onsself dink, hoe gelukkiger sal ons wees.

Lê Jou Lewe Neer En Vind ‘N Lewe Wat Die Moeite Werd Is Om Te Leef

Ek onthou hoe God my gemaan het oor my selfsugtige, selfgesentreerde, ”Wat van my?!”-houding. Hy het eendag tot my hart gepraat en gesê: ”Jy is selfsugtig. Jy het My Woord bestudeer oor geestelike oorlogvoering, genesing, en om krag en gesag te hê as ‘n gelowige in Christus … maar hoeveel tyd het jy oor My liefde bestudeer?’’

Dit het my laat besef ek sal nooit gelukkig wees en vrede hê totdat ek geleer het om lief te hê soos Jesus liefhet nie.

Wanneer ons God se liefde ken en ervaar, kan ons dit met ander deel. Stel jou voor hoe die wêreld sou wees as elkeen wat hulself ‘n Christen noem, mekaar werklik met Sy liefde sou liefhê. Dink daaraan: daar sal geen skinderpraatjies, geen oordeel of kritiek wees nie, geen eksklusiewe gesindhede wat ander verwerp laat voel nie, en daar sal veel meer in mense se behoeftes voorsien word as wat hulle het.

Die waarheid is dat om ander te dien, is God se uiteindelike plan vir ons lewens. Jesus het vir ons wesenlike en praktiese voorbeelde gegee van hoe om ander lief te hê soos Hy ons liefhet deur hulle te dien.

Om Ander Enduit Lief Te Hê

Johannes 13:1 sê Jesus ‘’ het hulle enduit liefgehad.’’ (NLV). In die volgende verse demonstreer Hy wat dit beteken om ander so lief te hê.

In daardie dae was daar bediendes wat mense se voete gewas het as hulle kom kuier het. Dit is waarskynlik dat hulle as die mees geringste van die bediendes in die huishouding beskou is. Jesus, die Seun van God, het opgestaan ​​van die ete af, die diensknegte se handdoek geneem en die dissipels se voete begin was. Sy boodskap aan hulle was om mekaar lief te hê deur ‘n dienskneg te wees, want God wil hê dat Sy liefde deur ons moet vloei en ander mense se lewens aanraak.

Liefde is nie net ‘n gevoel of ‘n teorie nie; dit is ‘n besluit wat ons neem en ‘n aksie wat ons neem. Dit is so belangrik vir ons om te studeer wat die Bybel oor God se liefde leer sodat ons kan leer om soos Jesus lief te hê – om ‘n dienskneg te wees wat ‘’voete was’’ om ander te help.

Om Ander Lief Te Hê Soos Jesus Liefhet

Matteus 7:12 (NLV) sê, “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen …’’ Om God se liefde te wys, beteken om in die lewens van ander te belê deur hulle ondersteuning te gee, hulle aan te moedig, te help om in hul behoeftes te voorsien soos ons kan.

Dit is maklik om mense te wil help waarvan jy hou of diegene wat jy wil beïndruk, maar wanneer dit kom by om iets te doen vir iemand wat jy nie ken nie of selfs jou familie, kan dit ‘n ander storie wees. Ons moet besef ons is van nature selfsugtig en ons moet ‘n doelbewuste besluit neem om spesifiek aan ander te dink of ons sal baie geleenthede mis om hulle te dien.

Ek wil jou aanmoedig om Johannes 13 te lees en goed op te let wat Jesus gedoen het en wat hy gesê het. Spandeer tyd om skrifture oor God se liefde te bestudeer en bid vir Hom om vir jou maniere te wys hoe jy die mense in jou lewe kan dien.

Jy sal waarskynlik vind dat dit makliker en eenvoudiger is as wat jy gedink het dit sou wees om iemand se lewe te help verbeter.

God wil hê ons moet ons lewens geniet en die sleutel is om jou lewe neer te lê, om te vergeet om die middelpunt van ons wêreld te wees en daarop te fokus om elke dag iemand te help. Wanneer jy dit doen, sal jy ontdek dat jy eintlik meer geborge, tevrede, vergenoeg en gelukkig is as wat jy ooit in jou lewe was!

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon