Alledaagse Antwoorde

Hoe om Vrede in Elke Verhouding na te Streef

deur Joyce Meyer

Hoe om Vrede in Elke Verhouding na te Streef

Verhoudings is ‘n belangrike deel van die lewe. Gesonde verhoudings het die vermoë om vir ons groot vreugde en bevrediging te bring; ongesondes kan egter die lewe versuur.

In my lewe het God se Woord my soveel wonderlike lesse geleer oor hoe om met mense oor die weg te kom – iets waarmee ek nooit baie goed was nie. Maar die grootste les was dit: kies om in vrede met ander te lewe.

Eenvoudig gestel, dit is God se wil dat ons in vrede en harmonie met mekaar moet lewe, en Sy Woord bied duidelike instruksies oor hoe om met mense oor die weg te kom in ons daaglikse lewens.

1 Petrus 3:11 (NLV) sê,’’ Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is. Soek vrede, ja, jaag dit na!’’.

Let op dat hierdie vers sê ons kan nie net vreedsame verhoudings begeer nie – ons moet dit nastreef!

Dit beteken nie dat ons nooit sal verskil nie. Mense gaan van nature verskille hê, en dit is goed om te verskil as ons dit met respek kan doen. Ons moet onenigheid vermy.

Wat is onenigheid? Die woordeboek definieer onenigheid as ‘’gekibbel, stryery, ‘n hewige meningsverskil of ‘n woedende onderstroming’’.

Onenigheid is een van die grootste bedreigings vir gesonde verhoudings; dit het die vermoë om huwelike, persoonlike verhoudings en selfs kerke te vernietig. Soos ‘n saadjie, kan twis geplant word deur iets wat ons sê of doen, en dan uiteindelik groei tot ‘n groot probleem.

God se Woord sê vir ons dat dit die ”klein jakkalsies” is wat die wingerd binnesluip en al die druiwe bederf (sien Hoogliedere 2:15). Ek glo dit is waar wanneer dit by onenigheid kom. As dit onafgehandel gelaat word, kan selfs ligte meningsverskille of frustrasies uiteindelik ‘n verhouding vernietig.

Hoe hou ons onenigheid uit ons verhoudings? Hier is ‘n paar praktiese wenke:

Handhaaf ‘N Nederige Hart

Waar daar twis en onenigheid is, is daar ook trots. Daarom is dit vir ons so belangrik om nederigheid te beoefen.

Ons hou almal daarvan om reg te wees – of dit nou ‘n argument is oor ‘n groot saak of iets onbenulligs. Nederigheid beteken egter dat ons ons ”reg om reg te wees” prysgee.

Ek kan jou nie vertel hoeveel keer ek en my man, Dave, tyd gemors het om oor een of ander onbenullige kwessie te stry nie. Daardie kere wat ek ”gewen” het, het ek regtig verloor, want ek het ons verhouding beskadig en my vrede in die proses prysgegee.

Ek daag jou uit om ‘n gesindheid van nederigheid aan te neem. As julle ‘n argument voer, wees die eerste om vrede te maak of om verskoning te vra … selfs al weet jy jy is reg! Dit kan op daardie oomblik pynlik wees, maar dit sal op die ou end die moeite werd wees.

Laat Liefde Jou Gids Wees

Onenigheid is nie net ‘n 21ste-eeuse probleem nie. Die apostel Paulus het aan die vroeë kerk geskryf en hulle aangemoedig om onenigheid te vermy en weg te bly van kleinlike argumente.

In Filippense 2:2 (NLV skryf hy, ‘’ Maak my dan nou heeltemal bly deur eensgesind te wees – één in liefde, één in hart en één in doel.’’
Waar daar eenheid is, stort God Sy seëninge uit (Psalm 133). Matteus 18:19 vertel aan ons daar is krag in eenheid. Ons kan egter nie werklik saamstem en in eenheid wandel as daar bitterheid, aanstoot en onvergewensgesindheid in ons harte is nie.

Ek kan ‘n groot glimlag op my gesig sit en al die regte dinge sê, maar as ek steeds doelbewus allerhande negatiewe gedagtes en gevoelens oor iemand koester, wandel ek nie regtig in liefde of eenheid nie. Dit is nie net die buitekant wat saak maak nie – wat binnekant aangaan, is selfs belangriker.

1 Kor 13:5 (NLV) sê liefde ‘’tree nie onwaardig op nie, stel nie sy eie belange voorop nie, is nie kort van draad nie, hou nie boek van die kwaad wat hom aangedoen word nie.’’ Vers 7 vertel ons verder dat liefde in die beste van elke mens glo.

Ek moedig jou aan om werklik lief te wees vir die mense in jou lewe. Neem ‘n besluit om verenig te bly, maak nie saak wat tussen julle probeer kom nie. Want ”die liefde faal nooit nie” (1 Kor 13:8).

Streef Na Die Vredevors

Die heel beste verhoudingsraad wat ek jou kan gee, is om ‘n persoonlike, intieme verhouding met Jesus Christus, die Vredevors, te ontwikkel. Ek moedig jou aan om gereeld tyd saam met Hom deur te bring deur gebed, en deur Sy Woord te lees en te bestudeer.

Soos jy dit doen, sal Hy jou letterlik van binne na buite verander, wat veroorsaak dat jy anders dink en anders optree. Dit is eers wanneer ons Sy vrede en Sy liefde ontvang dat ons dit werklik aan ander kan weggee!

Ek is so dankbaar vir die vrede van God in my lewe. Die Here het nie net my verhoudings verbeter nie, maar Hy het my verander. Hy sal dieselfde vir jou doen.

Dit is moontlik om stabiele, vreugdevolle, vervullende verhoudings te geniet. Dit begin alles met ‘n eenvoudige besluit om vrede na te streef.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon