Alledaagse Antwoorde

Om Oor die Weg te Kom Wanneer Verskille oor die Pad Ko

deur Joyce Meyer

Om Oor die Weg te Kom Wanneer Verskille oor die Pad Kom

Jy het waarskynlik opgemerk dat elke persoon nie dieselfde is nie. Elkeen van ons het ‘n unieke persoonlikheid met verskeie voor- en afkeure. Hoewel ons dikwels aangetrokke is tot mense wat anders is as ons, is dit hierdie verskille wat tot onenigheid in ons verhoudings kan lei.

Soms probeer ons ander oortuig om meer soos ons te wees, maar dit is nie wat die Bybel ons leer om te doen nie. Ons is almal geskep vir vryheid en as ons gesonde verhoudings met mense wil hê, moet ons hulle die vryheid gee om te wees wie hulle is.

Ek kan nie vir jou sê hoeveel jaar ek probeer het om my man, Dave, te oorreed om op te hou sport kyk nie. Hoe meer ek probeer het, hoe erger het dit geword. Een Saterdagmiddag het ek by die gesinskamer ingestap en gevind dat, terwyl hy besig was om sy gholfstokke te poleer, hy na sport op die televisie gekyk het en ook met sy oorfone na ‘n ander sportbyeenkoms geluister het. Ek het net gedink, Joyce, jou plan werk net nie!

Die waarheid is dat ek wou hê Dave moes doen wat ek wou doen – ek wou hê hy moes meer soos ek wees. Om hom te probeer verander, het niks bereik nie en ek was gefrustreerd en ontsteld.

Ek hou van wat Romeine 12:16 (NLV) sê, ‘’ Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder. Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie.’’

Dit is onmoontlik om selfsugtig te wees en gesonde verhoudings te hê. As ons werklik in vrede en harmonie wil lewe, gaan dit ‘n bietjie gee en neem verg. Soms sal ons ons lewens moet aanpas om iemand anders se behoeftes of begeertes te akkommodeer.

Soms beteken dit bloot om geduld en begrip te hê met diegene wat nie jou eie sterk punte deel nie. Byvoorbeeld, het jy al ooit opgemerk dat jy geïrriteerd raak met iemand wat meer tyd neem om besluite te neem as jy? Of miskien verstaan hulle dit nie so vinnig as wat jy wil nie.

As ons onsself toelaat om hoogmoedig te word, kan ons mense seermaak deur uit ons eie selfbelang en selfsugtige belange op te tree. Die Here wil nie hê ons moet ‘n geringe opinie van onsself hê nie, maar Hy wil beslis nie hê ons moet dink ons is beter as enigiemand anders nie!

1 Korintiërs hoofstuk 12 verskaf die perfekte illustrasie. Dit sê ons is almal deel van een liggaam, elkeen met ons eie afsonderlike en belangrike rol om te speel. Vers 25 (NLV) vertel ons, ‘’ Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar.’’

Ons het almal mekaar nodig en wanneer ons leer om mekaar se talente en vermoëns te erken en te waardeer, ontwikkel dit respek wat ons verhoudings kan versterk en genees.

Laat ons prakties wees. Wanneer ek sukkel om iemand se verskille te aanvaar of met ander saam te stem, is daar ‘n paar dinge wat ek probeer doen om die regte gesindheid te handhaaf …

  • Wanneer jy iemand oor ‘n probleem moet konfronteer of ‘n negatiewe kwessie moet bespreek, kies jou tydsberekening reg. Bid oor wat om te sê en vra God om jou in elke gesprek te lei.
  • Wees respekvol, selfs al stem die ander persoon nie saam met jou mening nie.
  • Luister met ‘n oop gemoed. Wees gewillig om te bid oor wat hulle sê.
  • In plaas daarvan om op julle verskille te fokus, soek dinge om oor saam te stem.
  • Gebruik positiewe lyftaal en stemtone en kies elke woord met sorg.

Daar sal tye wees wanneer julle nie sal saamstem nie, en in daardie omstandighede, is die beste ding wat jy kan doen om God te vertrou, dit daarby te laat en te vergewe.

Sommige dinge is baie belangrik en jy moet jou man staan, maar daar is soveel dinge in die lewe wat net nie saak maak nie.

Die slotsom is dat jy nie altyd met jou gade, familie of vriende sal saamstem nie, maar jy kan hulle steeds respekteer en waardeer. Ek stem nie altyd saam met Dave oor al sy opinies en oor alles wat hy doen nie, maar ek keur Dave goed. Hy is ‘n goeie man en ek is lief vir hom en ek waardeer sy karakter en beginsels. Deur die jare het ons geleer om in vrede met mekaar te kan verskil.

Ek moedig jou aan om God te vertrou met die mense in jou lewe. Vra die Heilige Gees om jou te help om die positiewe in jou verhoudings en die dinge wat julle in gemeen het, raak te sien. Terwyl jy jou deel doen om die vrede te bewaar, sal God nie net jou verbintenis eer nie, maar Hy sal ook jou lewe seën op groter maniere as wat jy kan dink.

Facebook icon Twitter icon Instagram icon Pinterest icon Google+ icon YouTube icon LinkedIn icon Contact icon